Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gesoek: Vrouerugby se Senatla

Vaart, vaart en nogmaals vaart.

Renfred Dazel, die afrigter van Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images

Dít is waarna Renfred Dazel, afrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesrugbyspan, soek voor aanstaande jaar se Statebondspele en Wêreldbeker-toernooi.

Die Blitsbok-vroue het verlede naweek in Tunisië vir die vyfde agtereenvolgende keer die Afrika-sewestoernooi gewen en daarmee saam as Afrika se verteenwoordiger gekwalifiseer vir die WB-toernooi in San Francisco, Amerika.

Dazel se span het goeie rekenskap van homself in Noord-Afrika gegee deur nie ’n enkele wedstryd onderweg na die titel te verloor nie.

Tog sê Dazel hy weet sy span gaan veel sterker teenstand in die Statebondspele – aan die Australiese Goudkus – en WB-toernooi kry.

Daarom sê hy daar word nou ernstig gekyk daarna om meer “atlete” by die sewesprogram betrokke te kry.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie, ons is dankbaar vir die talent tot ons beskikking. Maar die werklikheid is dat ons spelers inkry wat op ’n baie laat stadium in hul sportloopbaan aan rugby blootgestel word.

“Die meeste vrouerugbyspelers neem slegs die sport op as ’n manier om sosiaal aktief en fiks te bly en dit gaan verskriklik baie hulp van provinsiale unies regoor die land verg om (soos in ander lande) ’n rugbyprogram in werking te stel waar die beste atlete gewerf word om rugby te speel.

“Gaan kyk maar net na Nieu-Seeland se Portia Woodman. Dit is iemand wat jy weet ’n hele paar verdedigers met haar vaart gaan klop en die drieë vir jou sal inryg,” sê Dazel.

Seabelo Senatla. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se mans is juis geseën met spelers soos Seabelo Senatla en Rosko Specman wat oor dié tipe vaart beskik en hulle is van die Blitsbokke se grootste aanvalswapens.

Dazel is hoopvol dat die huidige groep spelers tot sy beskikking in die nabye toekoms berge kan versit. Die eerste Everest in hul pad is die Statebondspele, waar hy hoop sy span kan vir 'n paar opskuddings sorg.

Dit gaan in die aanloop tot die kompetisie goeie beplanning en genoegsame wedstrydoefening verg - sodat Dazel duim vashou vir 'n uitnodiging om ’n paar toernooie in die Wêreldreeks vir vroue te speel. Die eerste daarvan is die Dubai-toernooi in Desember.

Die verowering van nog ’n Afrika-titel beteken dat hulle een van die gunstelingspanne is om ’n uitnodiging as die 12de span in die Wêreldreeks te ontvang.

Die Suid-Afrikaanse vrouesewesrugbyspan, wat die Afrika-titel in Tunisië verower het. Foto: Verskaf

Meer oor:  Renfred Dazel  |  Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.