Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gestrand in Japan, maar dit gaan goed

Drie van Suid-Afrika se Wêreldbeker-wenners moes nou die knie voor die koronavirus buig en hul planne laat vaar om terug te keer Suid-Afrika toe.

RG Snyman, Damian de Allende en Malcolm Marx se laaste desperate plan om uit Japan uit huis toe te vlieg, het Maandag erg skeef geloop.

RG Snyman en sy vrou, Saskia, in Japan. Foto: Verskaf

Hulle het dit wel reggekry om ’n vlugbespreking te maak, maar dit is die verste wat hulle met hul reisplanne gevorder het.

Dit is nou die drie Bokke se lot om vir die volle tydperk van die staat van inperking in Suid-Afrika in Japan te bly.

Die Bokke se bespreekte vlug op Ethiopian Airlines was Maandag nog bestem om na Johannesburg te vertrek, maar dit is toe deur die plaaslike owerhede gestop toe die lughawe vir internasionale vlugte toegemaak is.

Vir Marx-hulle was dit neusie verby om by hulle gesinne en familie in Suid-Afrika uit te kom.

Snyman het uit Japan aan Rapport vertel hulle soek nog steeds na maniere om by die huis uit te kom, maar dit lyk nie asof dit gaan gebeur nie.

“Dit is die probleem waarmee ons nou sit. Ons het ’n vlug geboek toe hulle die inperking aangekondig het, sodat ons betyds by die huis sou kon wees as die inperking-dinge begin. Toe het hulle daai vlug gekanselleer.

“Ons het een vir die volgende dag ook geboek en dit is toe ook gekanselleer. Ons aanvanklike bespreekte vlug terug huis toe in Mei is nou ook gekanselleer.

“En nou wil niemand meer terugvlieg Suid-Afrika toe voordat die inperking nie verby is nie.

“Ons moet nou maar wag tot dit verby is en sien wanneer ons wel kan vlieg. Ons hou maar aan kyk. Tier (Schoeman) en Matthys (Basson) is ook nog hier en probeer ook om huis toe te gaan. Dit is maar moeilik omdat daar nie vlugte is nie.”

Dis nie te sleg om hier te wees nie. Ons het nie ’n inperking nie, en die klub kyk steeds mooi na ons en maak seker ons is gesond.

Een van die groot probleme vir die spelers is hul tuistes in Japan.

Snyman se klub, Honda Heat, is nie naby Tokio nie, en dit maak reis nog moeiliker. Hulle word darem op die hoogte van sake gehou deur die departement van buitelandse sake se WhatsApp-groep vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is.

“Dit is die ander probleem vir ons. Ons is so drie en ’n half uur buite Tokio, so dit is nie vir ons so eenvoudig nie. Ons moet met ’n trein in Tokio uitkom. Dit is nie ’n vinnige proses nie.

“Ons kyk nog, maar daar is nie vlugte nie. Ons is ook ’n bietjie onseker wat gaan gebeur as ons sou huis toe kon gaan, want ons weet nie hoe die kwarantyn tuis sal werk nie.”

Snyman kuier tans by sy ou spanmaat Jason Jenkins.

“Dis nie te sleg om hier te wees nie. Ons het nie ’n inperking nie, en die klub kyk steeds mooi na ons en maak seker ons is gesond.

“Die ander ding is, omdat ons in die platteland bly, is daar nie so baie mense nie en almal is nie so op mekaar nie.

“Ons kuier nou die naweek by Jason-hulle in die dorp langsaan, so die inperking is vir ons nie so erg nie.”

Meer oor:  Tokio  |  Damian De Allende  |  Rg Snyman  |  Japan  |  Malcolm Marx  |  Covid-19  |  Rugby  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.