Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gio geniet vir eers sy ‘nuwe’ loopbaan

Jy kry daai manne wat een ding sê, maar ná twee biere ’n heel ander storie het.

Gio Aplon wil nie een van dáái manne wees wanneer jy hom oor sy toekomsplanne pols nie.

Die 38-jarige veelsydige agterspeler is pas terug by die Bulle – of om ná ’n kniebesering, wat hom sewe maande langs die kantlyn gehou het, met sy nuwe loopbaan te begin, skerts Aplon.

Hy sê hy weet sy speeldae staan vinnig einde se kant toe, maar hy gaan vir eers net op Saterdag se Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton in Treviso fokus.

Gio Aplon het Saterdag nadat ’n kniebesering verlede jaar sy seisoen voortydig kortgeknip het, in Durban weer speelkans vir die Bulle gekry. Foto: Gallo Images

Hy het verlede Saterdag in Durban as ’n plaasvervanger sowat 20 minute teen die Haaie gespeel.

“Ek is nou 20 minute in my nuwe loopbaan in.

“Vir nou hoop ek net dat ek Saterdag ’n rol kan speel en daarna sal ek graag nog ’n bietjie Curriebeker-rugby wil speel.

“Dalk verander ek van plan nadat ek weer ’n volle wedstryd gespeel het. Ek wil nie myself in ’n hoek dryf oor dié besluit nie.”

Jake White, die Bulle se afrigter, het al by meer as een geleentheid van Aplon se waardevolle rol as ’n mentor vir ’n jong speler soos David Kriel melding gemaak.

Hawston se goue seun sê hy is dankbaar vir die bydrae wat hy kan maak.

“Jy kan nie alles wat jy oor die jare geleer het vir jouself hou nie – dit wat jy gesien en ervaar het.

“Dit was een van die redes hoekom Jake my gevra het om Bulle toe te kom. Van die ouens noem my oom, wat ’n bietjie van ’n verleentheid is.

“Die snaakste was toe ek Saterdag op die veld draf, het Jan Uys (die Bulle se plaasvervangerslot) gesê hulle moet die bal vir my gooi, want ek gaan die enigste afrigter word wat al ’n drie gedruk het.”

Aplon sê hy het oor die jare ervaar hoe dit voel om aan die wen- en verloorkant in eindstryde te wees.

“Dit is nooit lekker wanneer jy verloor nie, maar ’n ou leer altyd iets.”

Hy sê sy fokus is dié week op die kere wanneer hy al gewen het (in eindstryde) en om die spelers om hom kalm te hou.

“Daar ís senuwees wat ’n bietjie pla. Ons speel as’t ware vir ons land en dit is ons eerste eindstryd weg van Loftus af.”

Aplon sê dit is sy persoonlike doelwit om almal in die Bulle-kamp, wat hom die afgelope paar maande ondersteun het, te bedank.

“Die laaste sewe maande was tawwe tye, maar die Bulle het alles moontlik gedoen om my weer terug op die veld te kry.

“Ek sal graag met ’n goeie vertoning op ’n manier wil dankie sê. Die unie se bystand en ondersteuning was ongelooflik.”

Hy gaan ook in die opbou tot Saterdag se eindstryd probeer om ’n paar geheime uit die Benetton-kamp te kry.

Hy het ’n pakkie met biltong en lekkernye saamgebring vir sy voormalige Stormers-spanmaat Dewaldt Duvenage, wat Benetton aanvoer.

“Sy skoonouers het dit vir hom gestuur, maar dit sal teen ’n prys kom. Dit sal in ruil wees vir ’n geheim of twee,” sê Aplon met ’n groot glimlag.

“Dewie vaar goed en hy lei die span met onderskeid.”

Meer oor:  Gio Aplon  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.