Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Giteau gee oud-Matie nie slapelose nagte

Ryan Nell, ’n gewese Blitsbok, sal Sondag in een van die grootste wedstryde van sy loopbaan uitdraf en sal twee oud-Wallabies, Matt Giteau en Adam Ashley-Cooper, moet help hokslaan.

Ryan Nell sit vroeër dié maand af op ’n lopie in ’n wedstryd teen die New England Free Jacks. Foto: Getty Images

Nell (30) speel tans in Amerika vir Rugby ATL, een van die spanne wat sake in die eindstryd van die Major League Rugby (MLR) in Los Angeles, Kalifornië sal uitspook.

Hul teenstander is die LA Giltinis, die span waarvoor Giteau en Ashley-Cooper, albei veelsydige agterspelers, speel.

Giteau (38) het die Wallabies tussen 2002 en 2016 in 103 toetse verteenwoordig, terwyl Ashley-Cooper (37) tussen 2005 en 2019 121 toetse vir Australië opgestapel het.

Nell is saam met die Kanadese flank Matt Heaton die medekaptein van Rugby ATL.

Johan Momsen bemeester ’n bal in die lynstaan in ’n kragmeting in Januarie 2020. Foto: Getty Images

“Dit is vir almal ’n groot voorreg om teen ouens soos Matt en Adam te speel. Op die ou end wil jy jouself teen die bestes meet wanneer jy op die veld draf,” sê Nell, ’n senter.

“Dis vir ons ’n voorreg (om teen Giteau-hulle te speel) en ook ’n leerkurwe as ’n span.”

Benewens Nell, wat op plaaslike bodem provinsiale rugby vir spanne soos die Pumas, Boland en Westelike Provinsie gespeel het, is daar vele ander Suid-Afrikaners in sy span.

Dit sluit bekendes in soos Johan Momsen (slot of agtsteman), Marno Redelinghuys (slot), Adriaan Carelse (heelagter) en Kurt Coleman (losskakel of senter).

Om die waarheid te sê, wemel die MLR van plaaslike spelers soos die voormalige Springbok Bjorn Basson, die oud-Blitsbok Cecil Afrika en Joe Pietersen (almal San Diego Legion).

Momsen, wat die Maties voorheen in die Varsitybeker-reeks aangevoer het, handhaaf tans ’n goeie spelpeil. Hy is verlede naweek as Speler van die Wedstryd in die halfeindstryd teen Rugby United New York aangewys.

Hy sê die vooruitsig om op dieselfde rugbyveld as Giteau en Ashley-Cooper te wees, is nie iets wat hom oorweldig nie.

Adam Ashley-Cooper in aksie vir die LA Giltinis in die halfeindstryd teen die Utah Warriors. Foto: Getty Images

“Dit is spesiaal om teen hulle te speel, veral as jy hulle gesien speel het toe jy grootgeword het. Maar dit is maar net nog ’n speler op die veld, ek dink nie ons dink eerlikwaar eens aan hulle nie, dalk die ouens wat direk teen hulle speel, maar in die agttal nie regtig nie,” sê Momsen (25).

Hy is plaaslik by Griekwas gekontrakteer en sluit hom ná die eindstryd weer by die Noord-Kapenaars aan.

“Ek geniet die rugby in Amerika verskriklik baie. Dit is beslis besig om vinnig te groei. Hulle doen dinge maar net anders hier in Amerika, en sit meer geld in,” sê Momsen.

Michael Thomas, ’n speleragent in die Kaap wat onder andere Nell en Momsen op sy boeke het, sê Suid-Afrikaanse spelers is in groot aanvraag in Amerika.

“Dit wat hulle hier geleer het, dra hulle oor en hulle maak ’n impak,” sê Thomas.

“Almal soek mos maar jou fisieke Suid-Afrikaanse rugbyspeler, wat ’n verskil kan maak en kan inploeg in Amerikaanse rugby.”

Meer oor:  Mlr  |  Major League Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.