Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
G’n krisis, sê Hansen oor McKenzie
Die einde van die pad. Damian McKenzie ontvang behandeling vir sy kniebesering, die einste een wat hom vanjaar se Wêreldbeker-toernooi sal laat misloop. Foto: Getty Images

Die verlies van die All Blacks se veelsydige agterspeler Damian McKenzie word uit verband geruk, sê Steve Hansen, die rugbyspan se afrigter.

“Dis nie die einde van die wêreld nie. Ons sal nie toelaat dat dit ons veldtog om die Wêreldbeker (WB) te wen, ontspoor nie,” het Hansen aan die Nieu-Seelandse Sunday Star-Times gesê.

McKenzie het twee weke gelede in ’n Superrugby-wedstryd sy knie sodanig beseer dat hy vir die res van die jaar buite aksie sal wees. Hy sal dus die WB-toernooi in Japan misloop.

Sedertdien heers daar ’n hewige debat in Nieu-Seeland oor die groot impak wat dié verlies op die verdedigende wêreldkampioen se aanslag gaan hê.

Dis nie die einde van die wêreld nie. Ons sal nie toelaat dat dit ons veldtog om die Wêreldbeker (WB) te wen, ontspoor nie.
Steve Hansen

In die media word wyd bespiegel oor die massiewe verskil in die vaardighede wat McKenzie bied en wie van Beauden Barrett en Richie Mo’unga die nr.10-trui behoort te dra.

Die voormalige All Black-breier Graham Henry het selfs so ver gegaan om te sê die span moet dit oorweeg om die 37-jarige Dan Carter te herroep, al het hy in 2015 in sy laaste toets vir die Kiwi’s gespeel.

Maar Hansen sê die plaasvervanger hoef nie noodwendig soos die vlugvoetige McKenzie te speel nie.

“Ja, natuurlik is sy besering ’n gevoelige slag. Hy het die vermoë om enige teenstander in die lug te laat gryp. Maar dit beteken nie ons is in ’n krisis gedompel omdat hy beseer is nie.

Beauden Barrett is ’n waardige kandidaat op nr. 10 vir die All Blacks. Foto: Getty Images

“Damian is basies soos ’n jonger weergawe van Beauden (Barrett). Hy is veelsydig, hy het daardie X-faktor en hy het hope spoed. En dis presies wat Beauden met groot sukses op die vorige WB-toernooi aan ons gebied het.

“So daar is geen druk om ’n plaasvervanger vir Damian te vind nie. Ons het reeds iemand wat sy skoene vol kan staan, ’n speler van wêreldgehalte.”

Hansen sê hy moes die All Blacks se groepwedstryde in die komende WB-toernooi in ag neem, wat toetse teen die Springbokke, Italië, Namibië en Kanada insluit.

“Op die ou einde kom dit neer op ’n risiko-faktor as jy kyk na die balans van die span. Daar is heelwat talent om die nr. 10-trui te dra, alles gaan net daaroor of die speler geestelik skerp genoeg is.

“Daar is geen paniek oor Damian nie kan speel nie. Ons het heelwat veelsydige spelers wat daardie rol kan vervul en dit bied ons buigsaamheid in die kiesproses.”

Volgens Hansen sal ’n derde losskakel-opsie oorweeg word as daar ’n speler is wat indruk maak. “Indien nie, sal dié rol deur ’n veelsydige speler in die groep gevul kan word.”

Indien nie, sal dié rol deur ’n veelsydige speler in die groep gevul kan word.
Steve Hansen

Die All Blacks het in die vorige WB-toernooi drie losskakels in hul groep gehad. Opsie nommer drie, Colin Slade, het net in een groepwedstryd gespeel, boonop op heelagter.

In 2011 se toernooi het ’n rits beserings die span op nr. 10 uitgedun, wat beteken het die vierdekeuse-losskakel, Stephen Donald, moes uiteindelik ingespan word.

Ironies genoeg het hy in die eindstryd die wen-strafdoel deur die pale gejaag. – stuff.nz

Meer oor:  Beauden Barrett  |  Steve Hansen  |  Damian Mckenzie  |  Nieu-Seeland  |  Losskakel  |  Rugby  |  Krisis  |  Besering  |  Wereldbeker  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.