Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
G’n tweestryd tussen hom en Peter, sê Jake

Jake White teen Peter de Villiers.

Wanneer laas het twee voormalige Springbok-afrigters teen mekaar te staan gekom op die plaaslike rugbytoneel?

White, afrigter van die Bulle, het die nasionale span van 2004 tot 2007 afgerig en De Villiers, wat in Desember verlede jaar as die Oostelike Provinsie se nuwe breier aangestel is, was sy Bok-opvolger in 2008.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle. Foto: Gallo Images

White het dié tweestryd Vrydag afgemaak as iets wat in die media geskep word.

“Daar is geen spice nie. Ons is albei voormalige Springbok-afrigters, maar daar is nie veel meer as dit nie.

“Hy is ’n goeie afrigter en ek is seker hy gaan hulle aanvuur,” het White gesê.

Dié duo sal vir hul kontrasterende termyne onthou word.

White was in 2007 die argitek van die Bokke se Wêreldbeker-sukses, maar moes die vorige seisoen mooi verduidelik waarom hy nie as Bok-afrigter gepos moet word nie.

De Villiers se span het in 2011 se Wêreldbeker-toernooi reeds in die kwarteindronde uitgeval, maar die Springbokke het in 2009 die All Blacks drie keer geklop en ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus behaal.

Die Bokke het ook in 2008 ’n geskiedkundige eerste oorwinning oor Nieu-Seeland in Dunedin beklink, maar Div sal eerder vir sy omstrede en komiese uitsprake onthou word.

Daar word tot vandag toe ook in sommige rugbykringe vertel De Villiers se betrokkenheid was seremonieel van aard en dat senior spelers soos John Smit, Victor Matfield en Fourie de Preez daardie span afgerig het.

Peter de Villiers in ’n ligte luim toe hy nog die Springbokke afgerig het. Foto: Getty Images

Tendai Mtawarira, die oud-stut van die Bokke, het in 2019 in sy outobiografie, Beast, geskryf De Villiers was uit sy diepte as afrigter van die span, maar die boek is later aangepas ná kritiek oor dié uitlatings.

White het ’n wenpersentasie van 66% as Bok-breier gehad (36 oorwinnings in 54 toetse) en De Villiers 62% (30 uit 48).

Hul rugbypaadjies nadat hul nasionale diens beëindig is, is net so wyd uiteenlopend.

White het daarna die Brumbies met groot welslae afgerig en was selfs ’n sterk aanspraakmaker om die Wallaby-breier te word.

Hy het in 2013 onverwags teruggekeer Suid-Afrika toe as die Haaie se nuwe direkteur van rugby.

Sy tyd in Durban was ook van korte duur en hy het daarna in Frankryk en Japan bekers gewen by onderskeidelik Montpellier en Toyota Verblitz.

Die Bulle het verlede jaar in sy eerste seisoen as direkteur van rugby en hoofafrigter by Loftus Versfeld die plaaslike Superreeks en die Curriebeker verower.

De Villiers se dienste was sedert 2011 oënskynlik nie baie gesog nie.

Sy grootste pos sedertdien was toe Zimbabwe hom aan die begin van 2018 aangestel het in die hoop dat die span vir die eerste keer sedert 1991 weer vir die Wêreldbeker-toernooi kan kwalifiseer.

De Villiers is net meer as jaar later afgedank toe hy ná ’n vakansie nie vir werk opgedaag het nie.

Hy het aangevoer hy het sy dogter, wat kanker gehad het, bygestaan, maar die Zimbabwe Rugbyunie (ZRU) het later in ’n verslag gesê De Villiers het die trekpas gekry omdat hy nie aan die prestasieklousules in sy kontrak voldoen het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.