Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Goeie nuus’ kom vir OP ná Rademan-sege

Die groot oorwinning wat hy en sy span beamptes Saterdag in die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) se verkiesing behaal het, kan gou vrugte afwerp vir die unie, sê André Rademan, wat vir ’n tweede termyn as president verkies is.

André Rademan in ’n vrolike bui nadat hy Saterdag die OP-verkiesing in Gqeberha gewen het. Foto: Michael Green

Rademan en sy span het diegene wat hulle in die verkiesing, wat by die Hoërskool Cillié in Gqeberha gehou is, teengestaan het, ’n verpletterende nederlaag toegedien.

Met die groot oorwinning het die OP se klubs ook gewys dat hulle stories wat vooraf oor Rademan, wat kwansuis in ’n kroeg rassistiese uitlatings gemaak het, met minagting verwerp.

Rademan het intussen die “hand van vriendskap” aan sy teenstanders uitgereik en sê dis belangrik dat “almal nou in dieselfde rigting” moet trek.

“Met die eensydige oorwinning het die unie ’n boodskap aan sakelui gestuur. Daar is nou grootliks stabiliteit in die unie en daar is ’n kontinuïteit in leierskap,” sê Rademan.

“Die vorige vier jaar waarin ek en my bestuur in beheer was, kon ons die unie weer op sy voete kry.

“Nou moet ons verder gaan, borge kry en van die OP weer ’n wenspan maak.”

André Rademan poseer ná sy oorwinning in die OP-verkiesing saam met Maasdorp Cannon (links), sy onder-president, en Charles Malgas (regs), sy vise-president. Foto: Michael Green

Rademan het onthul dat daar reeds voor die verkiesing met twee potensiële borge vergader is.

“Hulle wou eers kyk wat gebeur met die verkiesing. Danksy die eensydige uitslag volg daar dalk binnekort goeie nuus vir die unie,” sê Rademan.

Jannie Louw, ’n bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het voor die verkiesing ’n boodskap van Mark Alexander, die nasionale liggaam se president, voorgelees.

Daarin het Alexander gewaarsku dat die OPRU se lede moet ophou om onder mekaar te baklei, anders kan die unie ondergaan.

• Die getal stemme wat elke kandidaat in die verkiesing gekry het, was: President: André Rademan 130, Vernon Stuurman 54. Onder-president: Maasdorp Cannon 117, Willie Blunden 51, Eben Coltman 15. Vise-president: George Malgas 126, Henry Jeggels 57. Bestuurslid van finansies: Mbulele Gidane 116, Temba Maseti 68. Provinsiale aangeleenthede: Freddie Makoki 101, Tony de Laura 54, Dennis January 27. Klub-aangeleenthede: Philip Joseph 118, Theo Ketchim 63. Ontwikkeling: Lorinda Brown 119, Amir Mpayipeli 62.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.