Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Goeie nuus midde-in nog ’n Kings-flop

Ná nóg ’n nederlaag in die Pro14-reeks sal ondersteuners van die Southern Kings bly wees om te hoor dat daar (dalk) beter dae op die span wag.

Deon Davids, hoofafrigter van die Kings. Sy span het Saterdag ’n droewige vertoning op Murrayfield teen Edinburgh gelewer en 0-38 in die Pro14-reeks verloor. Foto: Getty Images

Die Kings, wat Saterdagaand op Murrayfield met 38-0 deur Edinburgh afgestof is, se langverwagte oorname deur ’n konsortium sakelui is glo eindelik afgehandel.

Toe die Pro14-seisoen begin het, is daar aangekondig dat Isuzu die Kings gaan borg en dat die konsortium beheer van die franchise by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie sou oorneem.

Dit blyk nou dat die aankondiging oor die konsortium ’n bietjie haastig was.

Daar was nog baie vergaderings wat gehou moes word voor dit ’n werklikheid kon word.

Volgens betroubare bronne het SA Rugby, die Oostelike Provinsie Rugbyunie en die konsortium ’n paar dae gelede blad geskud.

“In hierdie stadium kan ek niks sê nie,” is André Rademan, president van die OP-rugbyunie, se enigste kommentaar.

Volgens hom sal SA Rugby “op die regte tyd” ’n verklaring uitreik. Dit kan dalk eers oor twee weke wees.

Intussen is daar heelwat gerugte wat rondvlieg. Dit klink of die konsortium 74% van die Kings-franchise en die OPRU 26% sal besit.

Daar sal glo ook so gou moontlik weer ’n akademie in die OP op die been gebring word. Deon Davids, Kings se afrigter, kan ook ’n rol speel in die aanstelling van die OP-afrigter.

Gepraat van Davids, hy sou Saterdagaand ’n gefrustreerde man gewees het.

Sy span was ná 10 minute se spel reeds 19-0 agter. In daardie eerste kwartier het die Skotse span darem maar heeltemal te maklik deur die Kings se verdediging gebreek.

Teen rustyd was Edinburgh reeds met 26-0 voor, en onthou, dit was grootliks die klub se B-span.

Edinburgh het ses drieë gedruk en was dit nie dat die Kings in die tweede skof baie beter verdedig het nie, was die telling sommer baie groter.

Die Kings was laas vroeg in Desember in aksie en dit was duidelik dat hulle gesukkel het om in rat te kom.

Twee spelers wat lank beseer was, die skrumskakel Sarel Pretorius en die haker Michael Willemse, het darem in die tweede helfte weer ’n bietjie speelkans gekry.

Punte:

Edinburgh 38 (26): Drieë: Dougie Fyfe, Darcy Graham (2), Rory Sutherland, Simon Berghan, Cam Fenton. Doelskoppe: Simon Hinkey (4).

Kings 0.

Meer oor:  Pro14  |  Murrayfield  |  Edinburgh  |  Southern Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.