Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gold sal storm saam met VSA rugby trotseer

Hy het geweet Amerikaanse rugby se geldsake lyk beroerd, maar hy het nie dié drastiese besluit verwag nie, sê Gary Gold, hoofafrigter van die VSA Eagles.

USA Rugby (USAR) het aangekondig hy het aansoek gedoen om bankrot verklaar te word.

HIGASHIOSAKA, JAPAN - OCTOBER 13: Gary Gold, Head
Gary Gold, afrigter van die VSA se rugbyspan, verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

Die Amerikaanse rugbybase sê die finansiële invloed van die Covid-19-pandemie het dié beheerliggaam (USAR) finaal op sy knieë gedwing.

Daar word in ’n verklaring van USA Rugby aangevoer hy het “onoorkombare finansiële uitdagings”.

“Soos wat die geval met al die ander rugbylande is, is daar (weens Covid-19) geen inkomste nie. Ek dink die besluit is grotendeels vír ons geneem,” sê Gold.

Dié voormalige Springbok-hulpafrigter en hoofbreier van die Haaie, is tans in Suid-Afrika in die tydperk van inperking.

Hy het in 2017 by John Mitchell as die Eagles se hoofafrigter oorgeneem toe die Nieu-Seelander die VSA vir Pretoria verruil het om by die Bulle aan te sluit.

Oorywerige begrotings en besteding en toenemende druk op inkomstestrome was al verlede jaar ’n groot probleem vir USAR.

Covid-19 het nou die inkomstekraan verder toegedraai.

“Ons sou in Julie teen Italië, die Franse Barbarians en Rusland gespeel het, maar dit is as gevolg van die pandemie afgelas.

“Dit is ’n hengse terugslag vir ons, want ons het daardie inkomste bitter nodig gehad.

“Ek dink ander vlak 2-rugbylande soos Spanje en Georgië is na dese in dieselfde verknorsing as ons.

“Ek het geweet daar is ’n finansiële krisis in VSA rugby, maar het nie gedink dit is so erg dat dié desperate ingryping nodig is nie.”

Die VSA het verlede jaar in die Wêreldbeker-toernooi al vier wedstryde in Groep C teen Engeland, Frankryk, Argentinië en Tonga verloor.

Daar is baie onsekerheid, maar die VSA sal nie ophou rugby speel nie. Die vraag is net wie tot ons redding gaan kom, en wanneer.
Gary Gold

Gold is tot die volgende WB-toernooi in 2023 in Frankryk gekontrakteer.

“Ek het ’n kontrak, maar dit beteken nie veel as daar nie geld is nie.

“Daar is baie onsekerheid, maar die VSA sal nie ophou rugby speel nie. Die vraag is net wie tot ons redding gaan kom, en wanneer.

“Ek is bereid om saam deur die storm te gaan,” sê Gold.

Barbara O’Brien, voorsitter van USAR, het die aansoek as die uitdagendste tydperk in die organisasie se bestaan beskryf.

“Die besluit is beslis nie ligtelik geneem nie. Hoewel die huidige klimaat (Covid-19) baie belangriker as rugby is, bly ons gefokus saam met aandeelhouers en ondersteuners in ons strewe na ’n gebalanseerde rugbygemeenskap waarin die spel kan groei.”

USAR sê in sy verklaring die opskorting van kompetisies het tot grootskaalse verlies van inkomste, borgskappe en bykomende bronne van inkomste gelei.

Wêreldrugby het reeds aangedui hy sal die Eagles met ’n finansiële reddingsboei bystaan.

Meer oor:  Gary Gold  |  Toetsrugby  |  Reddingsboei  |  Bankrot  |  Covid-19  |  Inkomste  |  Finansiële Krisis  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.