Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Goosen verlang na plaas, 'tjomme'
Johan Goosen saam met sy vrou, Aletia, hul oudste seun, Stean, en baba Francois. Foto: Verskaf

Johan Goosen op losskakel, Frans Steyn op binnesenter en Ruan Pienaar op skrumskakel vir die Cheetahs.

Nee, dit is nie wensdenkery nie, dié Springbokke se name kan volgende jaar op ’n spanlys van die Cheetahs verskyn – dit hang net af of die Vrystaat die geld in hul spelersbegroting kan vind om Goosen nou ook in te katrol.

Rapport het betroubaar verneem Goosen brand om weer vir die Vrystaat te speel. Hy is tans nog op die Franse klub Montpellier se boeke en het nog ’n jaar van sy kontrak oor.

Pienaar speel al ’n geruime tyd vir die Cheetahs, Steyn val op 1 Julie by hulle in en Goosen wil glo weer vir die Cheetahs speel. Die drie het vroeër ook saam vir Montpellier gespeel.

Na wat verneem word, gaan die Cheetahs nie gras onder hulle voete laat groei om Goosen weer in oranje te kry nie.

Ek dink daar is groter probleme in die wêreld as om nou rugby te speel.

Die veelsydige Goosen het juis in 2018, voordat hy Frankryk toe is, sy terugkeer tot mededingende rugby vir die Cheetahs gemaak en het naatloos by hulle ingeskakel.

In ’n onderhoud met Rapport die afgelope week wou Goosen nie kommentaar lewer op ’n moontlike skuif Cheetahs toe nie en gesê sy volle fokus is tans op Montpellier.

Hy het wel te kenne gegee dat hy baie verlang na sy gesin se plaas by Burgersdorp in die Oos-Kaap.

Sy troos in Frankryk is dat naby sy blyplek in Montpellier ’n plek is waar hy, sy vrou, Aletia, en hul kinders, Stean en Francois, perde wortels kan gaan voer. Dit, sê hy, maak die verlange na die Vrystaatse vlaktes en die plaaslewe ietwat beter.

Met die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie maak Goosen die beste van ’n slegte situasie. Hy het pas van ’n besoek aan Suid-Afrika teruggekeer toe die korona-inperking in Frankryk begin het.

“Ons het maar vrede daarmee gemaak. Ek dink daar is groter probleme in die wêreld as om nou rugby te speel.

“Dis sleg, maar dit gee my nou tyd om ander goed te doen. Ek en my vrou en kinders bly positief en dit gaan redelik goed,” het Goosen aan Rapport gesê.

Johan Goosen in aksie vir Montpellier teen Toulouse. Foto: Getty Images

Hy sê wat sy fiksheid betref, voorsien hy nie probleme vir wanneer daar weer met rugby begin word nie. Hy het ’n redelik groot erf waar hy kan oefen. Sy vrou oefen saam, hoewel hulle nie kan oefen soos hulle graag wil nie.

“Ons gaan hardloop ook en het selfs nou die ander dag ’n bliep-toets hier in ons straat gedoen. Verder oefen ons maar, ek sit die kinders op my nek, dra stene rond en ons gaan maar aan. Ons doen wat ons kan, al is die situasie nie ideaal nie. Ons kom darem reg. Dit gaan nie help ons is negatief oor Covid-19 nie,” sê hy.

Hy sê die klub het ’n groep op sosiale media gestig wat die spelers in staat stel om saam te oefen. Hy sê daar word nie te veel klem gelê op fiksheid op die groep nie, aangesien almal beroepsrugbyspelers is, en hy glo dat almal weet wat hulle verantwoordelikhede teenoor die klub en mekaar is.

Dit is die eerste keer in Goosen se rugbyloopbaan dat hy blakend gesond en fiks is, maar nie rugby kan speel nie. Hy is eintlik maar ’n ongeluksvoël wat beserings betref.

Ons doen wat ons kan, al is die situasie nie ideaal nie.

“Dit is frustrerend om nie te kan speel nie en ek is nie eers beseer nie! Dis hoe dinge nou is. Rugby is egter net ’n spel en ek wil en moet positief bly.”

Die ander goed waarmee hy hom besig hou, sluit onder meer tuinmaak in. Hy is in die Vrystaat eerder bekend as ’n man wat met skouperde betrokke is as vir tuinmaak.

“Ja, tuinmaak hou my ook besig. Verder speel ek baie met die kinders en bou plase in die tuin saam met hulle. Ons kan darem ook nog gaan stap met die kinders. Dit hou hulle op so ’n manier besig, want hulle raak ook maar geïrriteerd.

“Ek moet bieg, daar is soms tye dat ek baie verveeld is, maar ek pas aan.”

Die verlange na die plaas slaan duidelik deur in Goosen se stem.

“Ek en Steyntjie (Frans Steyn) praat nou die ander dag – ons sit nou al omtrent ses weke by die huis. Ses weke op die plaas is ’n ander storie as ses weke wat jy hier in jou huis sit.

“Ek sien die boere (in Suid-Afrika) gaan darem aan, so dit sou ’n groot verskil gemaak het as ek byvoorbeeld op die plaas kon wees.”

Hy word ’n tyd lank stil.

“Ek mis die plaas baie. Maar my vrou en kinders is hier en dit maak ’n groot verskil.”

Meer oor:  Johan Goosen  |  Frans Steyn  |  Rugby  |  Koronavirus  |  Montpellier  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.