Op 25 en met 13 toetse agter sy naam droom Johan Goosen steeds daarvan om vir die Springbokke te speel.
Hy het onlangs by Montpellier in Frankryk aangesluit nadat hy vroeër vanjaar die eerste keer – sedert hy in Desember 2016 laas (vir Racing 92) gespeel en “uitgetree” het – vir die Cheetahs in die Pro14-reeks gespeel het.

Johan Goosen tydens sy eerste oefening by Montpellier verlede week. Foto: Getty Images
Hy is een van ’n klompie Suid-Afrikaners (ook Springbokke) wat vir dié Franse klubspan speel.
“Ek is nou eers 25 jaar oud en daar is nog baie rugby in my. Elke speler wil in ’n Wêreldbeker-toernooi speel. Ek het egter nog nie met Rassie Erasmus (Springbok-afrigter) gepraat nie,” sê Goosen uit Frankryk.
“Ons oefen al hard en dit is waarop ek nou konsentreer. Dit gaan nou vir my daaroor om eers goed te vaar vir Montpellier voordat ek aan enigiets anders soos Springbokrugby dink.”
Goosen, ’n speler wat oor die X-faktor beskik, is ’n veelsydige agterspeler en is veral dodelik op losskakel. Hy kan niks minder nie as ’n aanwins vir die Bokke wees, ofskoon ’n speler soos Handré Pollard vir eers in die saal is.

Springbokke herenig. Johan Goosen, Frans Steyn en Ruan Pienaar van Montpellier tydens die eerste oefening vir die 2018/2019-seisoen verlede week in Frankryk. Foto: Getty Images
Met wisselvalligheid wat die Leeus se Elton Jantjies in die toetsreeks teen Engeland ten toon gestel het, was Erasmus genoop om ’n jong speler soos Damian Willemse van die Stormers vir die jongste oefenkamp te betrek.
Erasmus sal waarskynlik nie Goosen se dienste vir vanjaar se Rugbykampioenskap gebruik nie, maar die insluiting van oorsese spelers word nie meer uitgesluit nie.
Dit het gevolg nadat die reël dat slegs oorsese spelers wat in 30 of meer toetse vir die Bokke gespeel het vir die nasionale diens oorweeg sal word, nie meer geld nie.
Erasmus het vroeër laat deurskemer dat daar nie onmiddellike planne is om Goosen te betrek nie, maar wie hy saamneem Japan toe volgende jaar, kan in die volgende paar maande duidelik word.