Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gouepoot Robert slaag met 13 skoppe!
Robert du Preez (Gallo Images)

Ses drieë is nie te versmaai nie, veral nie as jy dit teen ’n Nieu-Seelandse span in Nieu-Seeland behaal nie. Maar dié prestasie van die Haaie is oorskadu deur Robert du Preez se skopvertoning pale toe met 13 skoppe wat hy in punte omskep het.

Dat die Haaie hul Superstryd teen die Blues in Auckland met 63-40 gewen het, is baie te danke aan Du Preez se goue voet – en sy drie – wat vir 38 punte gesorg het.

In ’n stadium toe die Haaie hul greep op die Blues verslap het, en die Kiwi’s hul agterstand uitgewis het om onverwags met 28-26 voor te loop, het Du Preez soos ’n skerpskutter sy teenstanders met sy stelskoppe afgemaai en die Haaie in staat gestel om volpunte in te oes ná twee teleurstellende nederlae op sy toer.

Dit was Du Preez se akkuraatheid met sy skoppe pale toe wat die Haaie deurgetrek het.

Albei spanne het ses drieë gedruk en meer as 100 punte is aangeteken. Maar dit was Du Preez se akkuraatheid met sy skoppe pale toe wat die Haaie deurgetrek het.

Robert se pa en naamgenoot wat die Haaie se afrigter is, het ’n paar weke gelede gesê dat resultate vir hom veel meer gewig dra as flambojante spel, en hoewel die Haaie gister in Auckland hul ondersteuners se harte sou verbly het met ’n halfdosyn sprankeldrieë, was dit sy oudste seun se skopskoen wat oplaas die oorwinning van 23 punte bewerkstellig het.

Die losskakel se ses doelskoppe en sewe strafdoele, tesame met ’n deurslaggewende drie in die tweede helfte, het aan hom ’n persoonlike bydrae van 38 punte besorg, wat grootliks die verskil tussen wen en verloor beteken het.

Jean-Luc du Preez

Sy jonger broer, Jean-Luc du Preez, het ook ’n barshou gespeel, yslike werk by die afbreekpunte verrig en was ongetwyfeld die Haaie se waardevolste speler.

Die jonger Du Preez is ook met een van sy span se ses drieë beloon toe André Esterhuizen met krag ’n bres geslaan het en hy goed ondersteun het. Du Preez het twee verdedigers met minagting afgestamp vir die Haaie se tweede drie in die 33ste minuut.

Die kaptein, Ruan Botha was ’n kortkop agter die Du Preez-broers en het van voor gelei. Hy het ’n skop afgestorm, losballe gesteel en deurgebars vir die eerste drie ná tien minute.

Hoewel die Haaie ’n halfdosyn drieë gedruk het, sal dit die span en bestuur pla dat hulle ook ses afgestaan het.

Danksy swak verdediging vroeg in die tweede skof, het die groot slot Patrick Tuipulotu in deur die eerste linie gebars en
40 m ver te nael vir ’n drie, voordat die losskakel, Stephen Perofeta, twee minute later deur feitlik die hele Haai-span gewals het vir nog een. Perofeta se doelskop het toe ’n voorsprong van 28-26 aan die tuisspan besorg.

Die Haaie was egter nie bereid om te gaan lê nie en het groot karakter aan die dag gelê om uiteindelik gemaklik te wen.

Die Haaie was egter nie bereid om te gaan lê nie en het groot karakter aan die dag gelê om uiteindelik gemaklik te wen.

Terwyl die Blues die laaste posisie in die Nieu-Seelandse Konferensie beklee, soos die afgelope vier jaar, is die Haaie se volgende teenstander, die Hurricanes (in Napier) tans tweede op die algehele puntelys. Dit is ná hul wegholoorwinning van 50-19 oor die Rebels, wat steeds eerste is en verlede naweek die Haaie met 46-14 afgeransel het.

Daar lê derhalwe nog heelwat harde werk vir Robert du Preez sr se span voor in die volgende vyf dae in Nieu-Seeland.

Die wedstyd teen die Hurricanes skop Vrydag om 08:35 (SA-tyd) af.

Meer oor:  Robert Du Preez  |  Jean-Luc Du Preez  |  Nieu-Seeland  |  Auckland  |  Rugby  |  Superrugby  |  Toer  |  Haaie  |  Blues
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.