Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Greenpeace wil All Black-borgskap kelder

Greenpeace het ’n beroep op die All Blacks en Nieu-Seelandse rugbyspelers gedoen om standpunt in te neem teen ’n beplande vennootskap met ’n petrochemiese maatskappy.

Greenpeace is ontevrede met die All Blacks se moontlike nuwe borg. Foto: Getty Images

Stuff berig die All Blacks is op die punt om ’n borgskap-ooreenkoms met Ineos te sluit. Daar word onderhandel dat die Britse konglomeraat se naam agterop die All Blacks se broeke verskyn.

“Dit is afgryslik dat ons geliefde nasionale rugbyspanne te midde van die klimaatkrisis die logo kan dra van ’n maatskappy wat verantwoordelik is vir die besoedeling van ons oseane met plastiek en ’n dryfveer is agter ons klimaatkrisisse,” sê Steve Abel van Greenpeace.

Dié omgewingsgroep het ’n petisie begin om die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) te oorreed om onderhandelinge met Ineos te staak.

Ineos is ’n Britse petrochemiese, olie- en gas-konglomeraat, met sy hoofkantoor in Londen.

Volgens Greenpeace is Ineos een van slegs 20 maatskappye wat verantwoordelik is vir die helfte van enkelgebruik-plastiekitems wat wêreldwyd weggegooi word – en ’n grootkop in die gas- en oliesektor.

“Nieu-Seelandse rugby moenie sy siel aan ’n Engelse olie-maatskappy verkoop nie,” sê Abel.

“Ineos poog om sy beeld te poets deur hom met die All Blacks en ons land se omgewingsreputasie te vereenselwig.”

Ineos is die hoofborg van Mercedes se Formule Een-span, besit twee van die voorste Europese sokkerklubs, en het die beroepsfietsryspan oorgekoop wat voorheen as Team Sky bekend gestaan het.

Ineos is in Brittanje vir onder meer hidrobreking in die spervuur.

Die NZR het glo die afgelope paar maande Ineos se sakeplan en redes om in die All Blacks te belê, ondersoek.

Volgens Greenpeace moet die span se huidige borg, Adidas, en die Nieu-Seelandse Rugbyspelersvereniging eers enige ooreenkoms goedkeur voordat die NZR en Ineos ’n vennootskap kan sluit.

“Ons hoop die Nieu-Seelandse publiek, All Blacks en rugbyspelers uit die hede en verlede neem standpunt in en sê vir die NZR ‘nee, jy kan nie die silwervaring met olie bevlek nie’,” sê Abel. – Sportredaksie

Meer oor:  Greenpeace  |  Ineos  |  Toetsrugby  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.