Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gregan: Pasop, Wallabies kan verras in WB

Die mees ervare rugbyspeler tot nog toe in Australië, George Gregan, glo die Wallabies gaan baie mense verras in vanjaar se Wêreldbekertoernooi as hulle die wisselvalligheid kan oorkom wat hulle die afgelope drie jaar gekniehalter het.

George Gregan, die voormalige Wallaby-kaptein en mees ervare Australiese toetsspeler tot nog toe. Foto: Getty Images

Die Wallabies het verlede jaar hul slegste toetsrekord in 60 jaar beleef toe hulle slegs vier uit 13 kragmetings gewen en tot sesde op die wêreldranglys gesak het.

Gregan, wat in 139 toetse gespeel het, glo egter Michael Cheika se manne kan ’n hoogtepunt bereik wanneer die WB-toernooi in September in Japan afskop – net soos in 2015, toe hulle onverwags die eindstryd gehaal het.

“In ’n Wêreldbekerjaar is die geheim om jou tydsberekening reg te kry,” het Gregan in ’n onderhoud in Sapporo, Japan, gesê.

“Die gaping tussen die voorste agt spanne raak net al hoe kleiner. Hulle (die Wallabies) kán die skakelaar aansit, hulle het dit in hulle,” sê hy.

Tog waarsku hy dat Cheika se spelers sal moet verbeter in die Rugbykampioenskap, wat in Julie begin, om werklik sterk aanspraakmakers te wees.

“As jy net ’n bietjie van stryk af is, is dit neusie verby vir jou. Dit is hoe dit in die Wêreldbeker gaan,” sê hy.

Hy het verwys na die bestendigheid wat die Aussies se teenstanders in Groep D, Wallis, gewys het toe hulle vanjaar die Sesnasies-kroon verower het.

“Wallis het nou 14 wedstryde agtereenvolgens gewen en die basiese aspekte van hul spel is stewig. Dit is iets wat nou al lank nie van Australië gesê kan word nie.

“Die Wallabies is regtig net te wisselvallig. Net met tye wys hulle wat hulle kan doen.

“Hulle het tog ’n sterk kern met spelers soos Israel Folau, Samu Kerevi en Will Genia. Jy kan sien sekere aspekte van hul spel verbeter, maar hulle sit dit nie alles bymekaar nie en dít is wat die goeie en bestendige spanne doen,” sê Gregan.

Die Wallabies se koppe het verlede jaar gereeld gehang, maar George Gregan glo hulle kan hul spelpeil in vanjaar se Wêreldbekertoernooi baie lig. Foto: Getty Images

Dié oudskrumskakel het die Wêreldbeker in 1999 saam met die Wallabies gewen en met sy span wat die eindstryd reeds vier keer gehaal het, glo hy hulle sal dit dalk net geniet om vanjaar ’n buiteperd te wees.

“Ons geniet dit om onder die radar na internasionale toernooie te gaan en dan goed te oefen en hard te werk. Hulle (vanjaar se span) sal dan dink: Hoekom kan ons dit nie doen nie?

“Ons was wel die afgelope drie jaar wisselvallig, maar hierdie toernooi is sewe weke lank en die Wêreldbeker is ’n besonderse dierasie,” sê hy.

Die WB-toernooi begin op 20 September wanneer die gasheer, Japan, teen Rusland te staan kom.

Australië se moeilikste groepwedstryd is op 29 September, wanneer hy Wallis in Tokio die stryd aansê.

Die ander spanne in Groep D is Georgië, Fidji en Uruguay.

– Reuters

Meer oor:  Toetsrugby  |  Wallabies  |  George Gregan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.