Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Grey in bed met Franse: ‘nie onpatrioties’
Jan Serfontein sal nie vir die Springbokke in Europa beskikbaar wees nie, omdat hy hom by Montpellier wil vestig.Foto: Gallo Images

Jan Serfontein se versoek om nie vir die Springbokke op hul jaareindtoer in Europa te speel nie, sodat hy hom by Montpellier, sy nuwe Franse klubspan, kan vestig, het opnuut die kollig op Franse klubrugby se voorliefde vir Suid-Afrikaanse rugbytalent gevestig.

Dit is veral Montpellier se verhouding met Grey-kollege, Serfontein se alma mater, wat heelwat opspraak wek.

Grey ontken dat sy verbintenis met dié klub, wat etlike miljoene rande beloop, “onpatrioties” is, hoewel daar toegegee word die risiko bestaan dat Suid-Afrikaanse spelers op ’n jong ouderdom aan die buitelandse mark afgestaan kan word.

Meer as 300 Suid-Afrikaners speel reeds beroepsrugby in die buiteland.

Jannie du Plessis, Frans Steyn en Bismarck du Plessis het hulle reeds by Montpellier gevestig. Foto: Getty Images
Frans Steyn onlangs in aksie vir Montpellier. Foto: Getty Images
Ruan Pienaar het hom ook onlangs vanaf Ulster by Montpellier aangesluit. Foto: Getty Images

Serfontein, Ruan Pienaar, Frans Steyn, Bismarck du Plessis en Jannie du Plessis is almal voormalige Bokke van Grey-kollege wat vir Montpellier uitdraf.

’n “Anonieme skenker” met ’n belang by Montpellier het vroeër vanjaar geld aan Grey geskenk, wat onder meer 50 studiebeurse vir belowende jong rugbyspelers én die aanstelling van ’n Franse onderwyser sal help finansier.

Die skema staan bekend as die Badawi-beursprogram en sal die studiebeurse, ’n Franse onderwyser en uitruilprogramme vir rugbyafrigters vir vyf jaar insluit.

Daar was al in die verlede ontevredenheid in Frankryk omdat Suid-Afrikaners wat in die Top14-liga speel nie Frans magtig is nie. Daar is egter geen verpligting op enige rugbyspeler van Grey-kollege om Frans as vak te neem nie.

Die skool het kort ná die aankondiging in ’n verklaring gesê “die skenking is een van die mees omvattende skenkings in die geskiedenis van Grey-kollege en is ’n regstreekse gevolg van die kulturele, sport- en professionele bydraes deur oud-Greys verbonde aan die Montpellier-rugbyklub in Frankryk”.

Dit het vrese laat ontstaan dat Montpellier, een van die rykste rugbyklubs in die wêreld, regstreeks toegang tot Grey-kollege se vervoerband van jong talent kan verkry en dit ten koste van Suid-Afrikaanse rugby sal plunder.

Deon Scheepers, Grey-kollege (sekondêr) se skoolhoof. Foto: Mlungisi Louw

Deon Scheepers, skoolhoof, en Chris Derksen, wat die skema sal bestuur, meen egter die vrese is ongegrond.

Scheepers het by navraag gesê die skema is hoegenaamd nie “onpatrioties teenoor Suid-Afrikaanse rugby nie”.

“Die beursprogram verteenwoordig ’n bykomende R7 miljoen wat in Suid-Afrikaanse skolerugby belê word. Hierdie bedrag beteken dat sowat 100 individue toegang tot Grey kan kry.

“Dit is hoogs waarskynlik dat hierdie spelers vir die plaaslike mark ontwikkel sal word gegewe strenger Franse reëls teen die gebruik van oorsese spelers en omdat die beurshouer geen verpligting teenoor Montpellier het nie.”

Scheepers het egter daarop gewys dat hulle die risiko verstaan en aanvaar om moontlik talentvolle spelers internasionaal af te staan.

“Ons glo dit is ’n klein prys om te betaal in ruil vir die voordeel wat hierdie skema vir die skool, die Vrystaat en Suid-Afrika inhou. Hierdie inisiatief sal soveel as 100 individue, wie se talent andersins verlore sou wees, identifiseer.”

Scheepers verwerp ook die aanname dat spelers vir Montpellier gekweek word ten koste van Suid-Afrikaanse provinsiale unies.

“Die beurs kan op enige tydstip gekanselleer word en ander unies, klubs of beheerliggame is welkom om programme in plaas van hierdie een of in samewerking daarmee voor te stel.”

Volgens Derksen sal die Badawi-beursskema “meer terugploeg in Suid-Afrikaanse rugby as wat dit ooit kan wegneem”.

Hierdie program gee nie vir Montpellier die reg op enige van Grey se spelers nie. Beurshouers hoef ook nie Frans te neem nie.
Chris Derksen

“Hierdie program gee nie vir Montpellier die reg op enige van Grey se spelers nie. Beurshouers hoef ook nie Frans te neem nie,” het Derksen gesê.

“Grey se teenprestasie in hierdie verband is om hierdie program te ondersteun, ’n gesonde verhouding met Montpellier te handhaaf en die verhouding aan die seuns te verduidelik.”

Hoewel die leeueaandeel van die oud-Grey-spelers wat hulle by Montpellier aangesluit het reeds gevestigde spelers met internasionale loopbane was, is daar ook uitsonderings.

Die oud-Grey Henry Immelman (22) het slegs junior rugby by die Vrystaat-Cheetahs gespeel voordat hy hom by Montpellier aangesluit het.

Dit is egter ’n werklikheid dat talentvolle seuns meer opsies sal hê as in die verlede.
Chris Derksen

Volgens Derksen is dit eerder ’n vraag vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, wat geen jurisdiksie oor skolerugby het nie, of daar in die komende jare meer voorbeelde hiervan sal wees.

“Suid-Afrikaanse unies het natuurlik steeds die reg om hierdie spelers te kontrakteer net soos in die verlede. Dit is egter ’n werklikheid dat talentvolle seuns meer opsies sal hê as in die verlede. Met of sonder hierdie verhouding.”

Meer oor:  Ruan Pienaar  |  Frans Steyn  |  Bismarck Du Plessis  |  Bloemfontein  |  Frankryk  |  Grey  |  Montpellier  |  Rugby  |  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.