Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ruwellyn bly hoop vir Superkans

Toe Ruwellyn Isbell destyds as skolerugbyspeler vir Grey-kollege uitgeblink het, het die rugbywêreld aan sy voete gelê, maar hy moes sedertdien vrede maak met die spoedhobbels van die lewe.

Die Pumas se Ruwellyn Isbell soek deurkomkans teen die Vrystaat-Cheetahs in ’n Curriebeker-wedstryd in 2018 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Die 27-jarige Isbell speel sedert 2014 by die Pumas, nadat hy ’n kortstondige sewesloopbaan by die Blitsbokke gehad het. Dit is grootliks kortgeknip deur ’n besering.

Ook in sy matriekjaar is hy vir die Suid-Afrikaanse Skolespan gekies, maar kon weens ’n besering nie speel nie.

By die Laevelders is Isbell, ’n vleuel, een van die span se staatmakers, en erken hy is elke jaar hoopvol as die plaaslike Superrugby-spanne spelers by die kleiner unies soos die Pumas leen.

So byvoorbeeld is die slot Le Roux Roets vanjaar aan die Haaie en die losvoorspeler Jeandré Rudolph aan die Bulle geleen.

Tot dusver is daar egter nog nie in Isbell se rigting gekyk nie, iets wat hy sê soms moeilik is om te verwerk.

“ ’n Mens speel tog maar om êrens deur ’n groter unie raakgesien te word. Jy werk die heeltyd vir daardie geleentheid.

“Maar alles gaan oor geleenthede en wat jy daarvan maak. Sommige ouens kry dit, maar gebruik dit nie. Soms voel ’n mens dat dit ’n bietjie onregverdig is, omdat jy hard gewerk en goed vertoon het. Maar ’n ou moet maar net aanhou hard werk.

“Toe ek uit die skool is, was dit my uiteindelike doelwit om vir die Springbokke en die Blitsbokke te speel,” sê Isbell.

Ruwellyn Isbell in aksie vir die Blitsbokke in die Suid-Afrikaanse sewestoernooi in 2012 in Port Elizabeth. Foto: Gallo Images

Op skool by Grey was van sy spanmaats Jan Serfontein (Springbok-senter) en Dries Swanepoel (Cheetahs). In Isbell se tyd by die nasionale sewesspan het hy egter slegs in vier toernooie gespeel.

Hy antwoord huiwerig die vraag of hy tevrede voel met hoe sy loopbaan uitgedraai het.

“Jy sal seker nooit heeltemal voel dat jy is waar jy moet wees nie. Daar is maar altyd ruimte vir verbetering.

“Ek het half aanvaar sulke dinge (soos beserings) gebeur, maar ek streef steeds om op ’n hoër vlak te speel.

“Elke liewe keer as ek beseer geword het, was my peil goed en dan het dit weer lank gevat om terug te kom. Maar ek sal nooit moed opgee nie,” sê Isbell.

Hy sê dat die spelers by die Pumas oefen-apparaat kon leen by die unie om tydens die inperking by hul huise te oefen.

“Vir sommige ouens is dit maar moeilik om alleen te oefen, omdat dit hulle motiveer om in ’n groep saam te werk.”

Meer oor:  Pumas  |  Blitsbokke  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.