Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas betaal duur vir hoogvatte

Brent Janse van Rensburg, afrigter van Griekwas, was gister ’n effe verslae man nadat sy span as gevolg van swak dissipline en ’n oorvloed foute die knie voor die Leeus in hul Curriebeker-stryd in Kimberley moes buig.

Die Leeus het met 27-26 geseëvier, ’n naelskraapse oorwinning waarvoor hul breier, Ivan van Rooyen, agterna sy spelers se karakter en veggees geloof het.

Die Goue Leeus-slot Ruben Schoeman kry ’n drukaangee weg in sy span se wedstryd teen Griekwas in Kimberley. Griekwas se Ewald van der Westhuizen en George Whitehead probeer keer.Foto: Emile Hendricks

“Ons is erg teleurgesteld met hoe ons die wedstryd begin het. Ons dissipline was onaanvaarbaar. Ons het te veel hoogvatte en foute gemaak,” het Janse van Rensburg oor sy span se vertoning gesê.

“Ons het goed gedoen om terug in die wedstryd te kom, maar die spelers het nie by die wedstrydplan in die tweede helfte gehou nie. Ons het soos individue gespeel en dinge probeer forseer.

“Dit is rêrig oor hoe ons ruimte aanval, en vandag was daar geen ruimte om in te hardloop nie. Ons het ook nie die ruimte benut wat die Leeus ons gelaat het om agter hulle te skop nie,” het die Griekwa-afrigter gesê.

Van Rooyen sê sy span het goed begin en die terugvegpoging in die laaste vyf minute was uitstekend. “Ons is geseënd om nog in die kompetisie ‘lewendig’ te wees. Ons het saamgekom as ’n span en hard vir die uitslag baklei.

“Dit is altyd lekker om senior spelers terug te kry en Cyle (Brink) het goed gedoen om 80 minute te kon volhou, want ons was gedwing om hom op die veld te hou.”

Die Leeus het nogtans so byna ’n voorsprong van 19-0 weggegooi, met Griekwas wat skitterend teruggeveg het in ’n aksiebelaaide tweede helfte waar die voortou in die laaste kwartier telkens van span verwissel het.

Die Leeus het voordeel getrek uit die senuagtige begin van die tuisspan, wat heelwat hanteerfoute gemaak het en ook talle strafskoppe afgestaan het met swak dissipline.

Griekwas kon sommer al vroeg vanuit hul eie doelgebied gaan druk met die vleuel Eduan Keyter wat die beweging begin het deur die bal lewend te hou toe hy in besit betrap is in sy doelgebied.

Die tuisspan het die lengte van die veld gevorder en toe Keyter vyf treë van die doellyn die bal kry met die doellyn oop voor hom, het hy aangeslaan.

Die Leeus het die eerste helfte grootliks oorheers met besit en gebiedsvoordeel en Stean Pienaar het die telling geopen met ’n onderskep-drie.

Nog drieë deur Tyrone Green en Madosh Tambwe het gevolg en Kimberley was stil met die telling op 19-0 net voor rustyd.

Die Griekwa-flank Gideon van der Merwe het sy span weer effe moed gegee toe hy net voor rustyd die eerste van sy twee drieë gedruk het.

Ná rustyd het die wedstryd egter verander met die Poubloues wat sterk teruggekom het en selfs hul neus voor gekry het.

’n Strafdoel vyf minute voor die einde deur die Leeu-losskakel, Shaun Reynolds, het die Leeus weer laat voorloop.

  • Punte: Griekwas 26 (7): Drieë:­Gideon van der Merwe (2), AJ le Roux, Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: George Whitehead (3).
  • Stean Pienaar (2), Tyrone Green, Madosh Tambwe. Doelskoppe: Shaun Reynolds (2). Strafdoel: Reynolds.
  • Die wedstryd tussen die Haaie en die Bulle op Loftus het ná Rapport se druktyd afgeskop. ’n Verslag verskyn in ons latere uitgawes.
Meer oor:  Leeus  |  Griekwas  |  Brent Janse Van Rensburg  |  Kimberley  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.