Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas druk op Kop se knoppie
Ewald van der Westhuizen sit af op ’n lopie teen die Westelike Provinsie in 2018. Foto: Gallo Images

Juis omdat Griekwas nog sonder ’n oorwinning in die Superrugby Unlocked-reeks is, het dié span se afrigter grofgeskut soos Ewald van der Westhuizen nadergetrek vir Vrydag se kragmeting met die Leeus.

Scott Mathie, breier van die Poubloues, het ’n rits veranderinge aan die beginspan aangebring, wat twee weke gelede effens onverwags teen die Pumas in Kimberley verloor het.

Die 30-jarige Van der Westhuizen en Andrew Beerwinkel is die nuwe stutte vir die kragmeting in Johannesburg. Hulle vervang Mox Mxoli en John-Roy Jenkinson, wat hulself op die plaasvervangersbank bevind. Van der Westhuizen, alombekend as Kop, is ’n ervare speler, wat al sedert 2013 by Griekwas is.

Met Ian Groenewald en Victor Sekekete (die slotpaar teen die Laevelders) se vertrek na die Cheetahs, sal Adré Smith en Mzwanele Zito in die middel van die skrum sak.

Carl Els skuif van flank na agtsteman in die plek van Niell Jordaan, wat sy stewels opgehang het. Gideon van der Merwe sal die nr. 6-trui dra en saam met Els en Stefan Willemse die lostrio vorm.

James Verity-Amm op die aanval in Griekwas se laaste kragmeting. Hy gaan die nr. 15-trui teen die Leeus dra. Foto: Gallo Images

Agterlangs skuif James Verity-Amm van linkervleuel na heelagter in die plek van Anthony Volmink, wat by die Haaie aangesluit het. Eduan Keyter vervang Verity-Amm op vleuel, terwyl die strydros Ederies Arendse die nuwe regtervleuel in Daniel Kasende se plek is. Dit sal Arendse (32) se 99ste wedstryd vir die Poubloues wees.

“Ek het volle vertroue in James, hoewel hy meestal vleuel speel, verkies hy heelagter en ons het Masixole (Banda, wat voorheen by die Kings was), wat sy terugkeer ná ’n besering maak, op die plaasvervangersbank,” sê Mathie.

“Kyk, Dan (Kasende) het hom tot dusver goed van sy taak gekwyt, daar was min spelers wat teen die Pumas goed was, maar hy was een. Ek het egter net gevoel Ederies en Eduan is meer ervare en teen die Leeus gaan dit absoluut belangrik wees.

“Wat die stutte betref, het ek ook besluit om vir die ervare ouens te gaan. Ewald speel al lank en ons wil stewig in die skrums vertoon. Wat Beerwinkel se keuse betref, hy was goed teen die Pumas toe hy speelkans gekry het.”

Wat die stutte betref, het ek ook besluit om vir die ervare ouens te gaan. Ewald speel al lank en ons wil stewig in die skrums vertoon.
Scott Mathie

Griekwas se laaste besoek aan Ellispark was gedurende die halfeindronde van 2019 se Curriebeker-reeks. Toe het die Johannesburgers die Poubloues met 34-19 geklop om hul aanspraak op die gesogte trofee tot ’n einde te bring.

Boonop het die Leeus ’n week voor daardie halfeindstryd die Noord-Kapenaars naelskraap met 27-26 in Kimberley geklop in dié spanne se laaste rondomtalie-wedstryd.

“Daar is nie sprake van vergelding nie. Ouens soos Anthony en Khwezi (Mona, stut) is weg en die span lyk baie anders as toe. Vir my is hierdie wedstryd ’n geleentheid om die nederlaag teen die Pumas agter ons te sit,” sê Mathie, wat in 2019 die hulpafrigter was.

“Ek wil hê die spelers moet op die veld gaan en dieselfde veggees toon as teen die Bulle. Hierdie wedstryd is ook ’n kans om ons veldtog in die reeks weer op koers te kry. Ons fokus op onsself en wat ons moet doen om dit reg te kry.”

Griekwas se span is:
James Verity-Amm, Ederies Arendse, Harlon Klaasen, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Zak Burger, Carl Els, Stefan Willemse, Gideon van der Merwe, Adré Smith, Mzwanele Zito, Ewald van der Westhuizen, HJ Luus, Andrew Beerwinkel. PLAASVERVANGERS (uit): Monde Hadebe, Mox Mxoli, John-Roy Jenkinson, Johan Momsen, Ewan Coetzee, Theo Maree, Tinus de Beer, Masixole Banda, Bandisa Ndlovu, CJ Velleman, Johnathan Francke.
 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.