Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas gee Brent meer as net breierspos

Brent Janse van Rensburg is in sy noppies dat Griekwas hom veel meer as net die pos van hoofafrigter gegee het. Hy kry ook die vryheid om te doen wat hy meen nodig is om van Griekwas weer ’n pronkspan te maak.

Die huidige afrigter van die Pumas is laat Vrydag aangestel as die nuwe afrigter vir die Poubloues. Hy sal die leisels ná die Curriebeker-reeks by Peter Engledow oorneem nadat hy ’n kontrak van drie jaar met die Noord-Kaapse unie gesluit het.

Brent Janse van Rensburg

Janse van Rensburg het CJ van der Linde as sy voorspelerafrigter aangewys.

Hy het drie ander afrigters – Eugene Eloff wat voorheen by die Leeus was, Jonathan Mokuena van Noordwes en Griekwas se huidige hulpafrigter, Pieter Bergh, om die pos geklop.

Janse van Rensburg was ook op die kortlys van Paarl Boishaai se pos as hoofafrigter – wat Engledow gekry het – asook as hoof van amateurrugby by die OP Kings.

“Ek en my vrou, Liezel, het deur ’n proses van eliminasie gegaan. Daar is baie dinge wat bepalend vir ons sou wees. Enige skuif sou albei van ons moes pas. Ek het my daarom onttrek aan die Boishaai-pos – dinge het nie vir ons positief gelyk nie.

“Dieselfde het die OP Kings-pos en ander geleenthede wat aan my gebied is, gegeld.

“Ek dink Griekwas gee my ’n geleentheid om vir drie jaar my beste te gee. My vrou was ook suksesvol om ’n pos in Kimberley te kry, en dit was uiters belangrik in my besluit.

“Griekwas was terselfdertyd baie behulpsaam om my vrou te help om ’n pos te kry. Dit het ’n groot rol gespeel in my besluitneming.

Janse van Rensburg sê Griekwas se benadering ten opsigte van die aanstelling het die besluit baie maklik gemaak.

“Die vryheid wat ek kry, en die ondersteuning wat die raad van Griekwas vir my gee, was ’n groot faktor in die besluit.

“Ek wou sekere goed in plek hê om myself in die pos uit te leef, wat vir ’n afrigter belangrik is. Die geleentheid om met goeie mense te werk, insluitend ’n ou soos CJ wat ook betrokke is, was ook ’n faktor.

“Griekwas was nog altyd ’n unie wat baie mededingend is, baie ambisieus is, en ’n indrukwekkende Curriebeker-geskiedenis het. Daar is baie goeie aspekte waarop ek kan bou. Hul goeie verhouding met hul borg is maar een daarvan.”

Janse van Rensburg het by die Pumas sukses behaal met die wen van die SuperSport-beker.

Terwyl hy opgewonde is om Van der Linde in sy bestuurspan te verwelkom, sal hy sy tyd neem voordat hy die ander hulpafrigters aankondig. Dit beteken dat Bergh, wat tans die agterspelers afrig, en Denzil Frans, die voorspelerafrigter, se poste ná die Curriebeker in die weegskaal is.

“Ek het met CJ by die Kings en by die Pumas gewerk. Ek dink hy is ’n baie intelligente mens met ’n goeie werksetiek en hy is baie ervare, met meer as 75 toetse en vele Superrugby-wedstryde agter die rug. Hy het al as ’n assistentafrigter onder baie goeie afrigters gewerk en het ook onder ’n hele paar goeie afrigters gespeel. Sy vlak van kennis is dus uitmuntend. Ek dink sy potensiaal om ’n ongelooflike afrigter te word, is groot.

“Ons het al saam gewerk en verstaan mekaar. Hy ken my stelsels en ek ken syne. Dit werk vir ons en ek kan nie wag om weer saam met hom te werk nie.

“Op die oomblik gaan ek nie enige oorhaastige besluite neem nie.

“Ek gaan kyk hoe alles werk, mense ontmoet en hoor wat hul sienswyses is. Daarna sal ek besluite neem.

“Ek sal my tyd vat en sal wyd konsulteer.”

Janse van Rensburg het by die Pumas sukses behaal met die wen van die SuperSport-beker.

Hy val op 1 November by Griekwas in.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.