Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas kan CB omhoog hou, sê Von Hoesslin

Daar is geen rede hoekom Griekwas nie oor ’n rapsie meer as twee weke as Curriebeker-kampioen gekroon kan word nie, sê die oud-Springbok Dave von Hoesslin.

Hy is om kommentaar genader nadat Griekwas die afgelope naweek sy plek in die halfeindstryd van die kompetisie bespreek het deur die Westelike Provinsie met 27-23 in Kimberley te klop.

Dave von Hoesslin maak die oond skoon vir die Springbokke teen die All Blacks in 1999 in Dunedin. Foto: Getty Images

Die 44-jarige Von Hoesslin, ’n skrumskakel in sy speeldae, was deel in 1998 van die laaste Griekwas-span wat die halfeindstryd gehaal het.

“As die ouens hou by wat hulle ken, kan hulle beslis wen. Onthou, hulle speel al ’n ruk as ’n eenheid saam en was nie ontwrig met spelers wat Superrugby gespeel het nie.

“Griekwas beskik oor geen werklike sterre nie, maar hulle speel goeie rugby. Ja, met die Wêreldbeker-toernooi om die draai het die ander spanne nie hulle Bokke ingespan nie. Tog vat ek daarmee niks weg van Griekwas nie,” sê Von Hoesslin.

Griekwas het in 1998 in Kimberley, met André Markgraaff as afrigter, teen WP met 11-27 in die halfeindstryd verloor. ’n Woeste reënbui het destyds kort voor die afskop, wat uitgestel is, uitgesak en die speelveld in ’n moeras verander.

“Dit was nie dat die geleentheid destyds te groot vir ons was nie. Ons was die beste span daardie seisoen, onthou ons het ouens soos Albert van den Berg (slot) en Piet Krause (flank) in ons span gehad.

Piet Krause in 1998 in aksie vir Griekwas in die Vodacombeker-reeks teen die Goue Leeus. Foto: Gallo Images

“Maar weens die reën moes ons anders speel as wat gewoonlik die geval was. Dit het die WP soos ’n handskoen gepas.

“Daar was ook nie destyds ’n dreineringstelsel in Kimberley nie, so die veld was papnat,” sê Von Hoesslin, wat in vyf toetse gespeel het.

Hy glo daar is spelers wat tans vir Griekwas speel wat met vrug op ’n hoër vlak ingespan kan word.

“Iemand soos George Whitehead dink ek kan goed vaar as hy ’n geleentheid in ’n Superrugby-span kry. Die realiteit is ongelukkig dat jy nie maklik vir hoër louere oorweeg sal word as jy nie vir een van die groot spanne speel nie – maar dit sal iemand soos hy die geleentheid gee om homself te meet.”

Die 30-jarige Whitehead, ’n losskakel wat die Poubloues vanjaar aanvoer, speel waarskynlik tans die beste rugby van sy loopbaan.

Hy het voorheen Superrugby vir die Southern Kings en die Stormers gespeel, sonder om sy stempel behoorlik af te druk.

Hoewel Von Hoesslin ook vir spanne soos die Haaie en die Stormers gespeel het, hou hy styf duimvas dat Griekwas die Curriebeker wen.

“Hulle het gewys dat hulle dit het wat nodig is om te wen.”

Griekwas se span van 1998 se halfeindstryd: Boeta Wessels, André Vermeulen, Lourens Venter, Edrich Lubbe, Robert Markram, Gaffie du Toit, Dave von Hoesslin, Luther Bakkes (k), Gideon Watts, Piet Krause, Phillip Smit, Albert van den Berg, Dawie Theron, Basil de Coning, Danie Vermeulen.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Dave Von Hoesslin  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.