Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas kán Leeus tem, sê oud-Bok Albert

Griekwas sal nie oorweldig word deur die druk om in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks te speel nie, voorspel die oud-Springbok Albert van den Berg.

Albert van den Berg tydens ’n oefenkamp van die Springbokke in 2007. Foto: Gallo Images

Die Poubloues kom Saterdag die eerste keer in 21 jaar in ’n uitspeelwedstryd van dié kompetisie te staan wanneer hulle die Goue Leeus in Johannesburg pak.

Maar, sê die 45-jarige voormalige slot, wat in 1998 vir die Poubloues in die halfeindstryd teen die Westelike Provinsie gespeel het, daar is geen rede hoekom Griekwas nie die eindstryd kan haal nie.

“Dit is ongelooflik. As ’n mens gaan kyk na Griekwas wat so goed in die SuperSport-uitdaagreeks gevaar het (hulle het daardie reeks gewen), het hulle reeds gewys hulle verstaan uitspeelwedstryde.

“Hulle het goed gevaar om die Haaie in hul eerste wedstryd in Durban – waar dit moeilik is om te wen – te klop. Ja, daar was daardie nederlaag (14-68) teen die Cheetahs, maar die span het goeie strukture,” sê Van den Berg, wat die Springbokke in 51 toetse verteenwoordig het.

Sias Koen, losvoorspeler van Griekwas. Foto: Gallo Images

“Na my mening is die grootste drukfaktor die feit dat Griekwas weg van die huis af speel. Die feit dat dit ’n halfeindstryd is, is nie so groot nie.

“Dit is jammer dat die kragmeting nie in Kimberley is nie, want Griekwas het ongelooflike ondersteuning daar en die opbou met oom Bushy (Olivier, gelukbringer van Griekwas) is iets om te beleef.”

Van den Berg sê dit help nie die span sit en tob oor hul naelskraapse nederlaag die afgelope naweek met 26-27 teen die einste Leeus in Kimberley nie.

“Hulle het hul kanse gehad (om te wen). Griekwas was bloot ongelukkig en moet nou fokus op die positiewe en nie die negatiewe nie.”

Hy is ook vol lof vir die werk wat die Poubloues se afrigter, Brent Janse van Rensburg, verrig.

“Daar is geen supersterre nie; ek sê dit met respek, daar is niemand wat uitstaan nie. Tog het Brent dit reggekry om die regte balans te vind wat spelers betref.

“Iemand soos Sias Koen (flank) is ’n baie goeie speler. Hy is ’n goeie seun, ek het destyds so ’n bietjie met hom by die Haaie se o.21-span gewerk,” sê Van den Berg, wat tans die Universiteit van Japan se rugbyspan as konsultant bystaan.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.