Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas ‘kan nie arrogant wees’, sê Brent
Zandré Jordaan is in Griekwas se beginspan ingesluit vir Vrydag se Curriebeker-kragmeting teen die Westelike Provinsie in Kimberley. Foto: Gallo Images

Zandré Jordaan se effektiwiteit by die afbreekpunte het hom van ’n plek in Griekwas se beginspan teen die Westelike Provinsie verseker.

So sê Brent Janse van Rensburg, afrigter van die Poubloues, aan die vooraand van môre se Curriebeker-wedstryd tussen die twee spanne in Kimberley.

“Hy verdien ’n kans en het homself bewys wanneer hy van die plaasvervangersbank af opgegaan het. Hy is ’n sterk baldraer en baie goed by die afbreekpunte.

“Ek dink ouens soos Gideon (van der Merwe, wat Jordaan in die beginspan vervang) en die ander spelers gaan beslis ’n rol hê om te vertolk as impakspelers,” sê Janse van Rensburg.

Die 31-jarige Jordaan, wat hom vroeër die seisoen as leenspeler van Boland in Kimberley aangesluit het, is die enigste verandering aan Griekwas se beginspan wat twee weke gelede met die Blou Bulle in Pretoria afgereken het.

Bjorn Basson, voormalige Springbok-vleuel wat die kragmeting in Pretoria weens griep misgeloop het, bevind hom op die plaasvervangersbank.

Brent Janse van Rensburg, afrigter van Griekwas. Foto: Gallo Images

Janse van Rensburg is maar te bewus van die feit dat ’n oorwinning sy span van ’n plek in die halfeindronde sal verseker.

“Ja, dit gaan ’n groot toets wees. Hulle (die WP) gaan baie energie hê, maar ons weet wat om te verwag. Ons moet egter fokus en nie verder kyk as Vrydag se wedstryd nie.

“Ek het vertroue in die groep, maar ons kan nie bekostig om arrogant te wees nie. As ons met die regte ingesteldheid opdaag, kan ons wen,” sê Janse van Rensburg.

Hy weet beslis wat dit verg om die Kapenaars op hul baadjie te gee. Toe hy die Pumas afgerig het, het die Laevelders die WP in 2017 met 22-12 in Mbombela geklop.

Net ’n jaar vroeër met hom aan die stuur by Boland, het die Wynlanders, met Jordaan op agtsteman, in die doodsnikke met 28-30 op Nuweland verloor. Dit nadat Boland met enkele sekondes op die telbord oor ’n strafskop afgestaan het, en Robert du Preez ’n strafdoel deur die pale gejaag het.

Griekwas:
Anthony Volmink, Ederies Arendse, Michal Haznar, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Zak Burger, Niell Jordaan, Sias Koen, Zandré Jordaan, Victor Sekekete, Ian Groenwald, Ewald van der Westhuizen, AJ le Roux, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Wilmar Arnoldi, Mox Mxoli, Johan Momsen, Gideon van der Merwe, Chriswill September, Chris Smit, Bjorn Basson, Ruan Kramer.
 
Meer oor:  Brent Janse Van Rensburg  |  Zandre Jordaan  |  Kimberley  |  Poubloues  |  Streeptruie  |  Wp  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.