Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas klink ook Leeus se doppie
Dis nie ’n Van der Merwe-grappie nie! Gideon van der Merwe oomblikke nadat hy vroeg in die wedstryd gaan druk het. Regs is Ruan Steenkamp, kaptein van Griekwas. Foto: Gallo Images

Griekwas het Woensdag gewys hul onlangse Curriebeker-oorwinning oor die Westelike Provinsie – die eerste in Kaapstad in meer as ’n eeu – was g’n gelukskoot nie toe hulle die Leeus ook op hul tuisveld slae gegee het.

Die Poubloues het dié kragmeting op Ellispark met 41-34 gewen, met die Poubloues se vleuel Eduan Keyter wat vier van die span se vyf drieë gedruk het.

Met dié bonuspuntsege bevind Griekwas, wat vroeër in die reeks ook oortuigend met die Vrystaat-Cheetahs afgereken het, hulle nou boaan die Curriebeker-punteleer met 19 punte.

Griekwas was blitsig op die telbord toe Gideon van der Merwe (flank) gaan druk het minder as ’n minuut nadat die wedstryd afgeskop het. Die Leeus kon nie die bal beheer nie. Van der Merwe het hom nie twee keer laat nooi nie. Hy het die bal opgepik en gaan druk.

Die tuisspan het eindelik in die 28ste minuut sy rekening op die telbord geopen toe Morné van den Berg (skrumskakel) ’n vinnige tikskoppie net ’n paar meter van die Poubloues se doellyn geneem het.

Die tuisspan het eindelik in die 28ste minuut sy rekening op die telbord geopen toe Morné van den Berg (skrumskakel) ’n vinnige tikskoppie net ’n paar meter van die Poubloues se doellyn geneem het.

Dit het gelyk of die Leeus effens spoed opgetel het ná daardie drie, want kort daarna het Sti Sithole (stut) ook gaan druk.

Tog het Griekwas kort voor rustyd weer gaan druk, toe Keyter oorgeduik het vir sy eerste drie, nadat die Johannesburgers kleigetrap het onder ’n hangskop van George Whitehead (losskakel).

Teen rustyd was die teling 17-12 in die besoekers se guns.

Die Leeus het Griekwas in die tweede helfte in die skrums gas gegee. Sithole het sy direkte teenstander, Janu Botha, harde bene laat kou. Botha is dan ook vroeg in die tweede helfte deur Andries Schutte vervang.

Die Johannesburgers het aanvanklik ná rustyd gevaarlik op die aanval gelyk Tog het Griekwas se verdediging gehou wanneer dit saak gemaak het.

Die Leeus se wenkanse het egter ’n knou gekry toe hul heelagter, EW Viljoen, in die 54ste minuut met ’n rooi kaart afgestuur is vir ’n ongeoorloofde duikslag op Jay-Cee Nel (senter).

Eduan Keyter, vleuel van Griekwas, het Woensdag in Johannesburg vier drieë gedruk. Foto: Gallo Images

Skaars was Viljoen af, toe duik Keyter oor vir sy tweede drie, nadat die Poubloues se voorspelers die perfekte platform gelê het. Whitehead het twee punte met ’n doelskop bygevoeg om die telling 27-19 in die Poubloues se guns te maak.

In die 64ste minuut het Ruan Dreyer (plaasvervanger-stut) gaan druk ná volgehoue druk deur die Leeus. Jordan Hendrikse, die Leeus se losskakel, het twee punte bygevoeg om die telling 27-26 te maak.

Kort daarna het Keyter sy derde drie gaan druk, met Whitehead wat twee punte bygevoeg het. Met 12 minute se speeltyd oor was die telling 34-26 in die besoekers se guns.

Keyter het kort daarna die laaste spyker in die Leeus se doodskis geslaan met sy vierde drie vir die middag.

Hy het hiermee Dave Prins, Jearus Nicholas en Bjorn Basson se rekord van dri deur ’n Griekwa-speler in ‘n wedstryd in die Curriebeker-reeks geëwenaar.

Griekwas het gewen ten spyte daarvan dat hulle veral in die tweede helfte in die skrums gesukkel het. Die Leeus het ook soms meters veld gewen met rolmaalbewegings.

Maar die Poubloues was oorgehaal om te wen. Wanneer hulle die bal in die hand gehad het, was hulle gevaarlik, terwyl hulle ook goed verdedig het.

Van der Merwe was nie net goed met die bal in die hand nie, maar ook by die afbreekpunte.

Laat in die wedstryd is die Leeus se Duncan Matthews met ’n geel kaart van die veld gestuur.

Die Leeus sal ook nie tevrede wees met ongedwonge foute nie, soos dié deur Hendrikse, wat die bal twee keer direk oor die doodlyn geskop heth.

Puntemakers:

Griekwas 41 (17): Drieë: Gideon van der Merwe, Eduan Keyter (4). Doelskoppe: George Whitehead (5). Strafdoele: Whitehead (2).

Leeus 31 (12): Drieë: Morné van den Berg, Sti Sithole, Rabz Maxwane, Ruan Dreyer, Travis Gordon. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).


Meer oor:  Kimberley  |  Johannesburg  |  Verrassing  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.