Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
GW-legende se kleinseun speel vir Maties

Een van die legendes van Griekwas toe hulle in 1970 die Curriebeker-rugbyreeks gewen het, se kleinseun is self besig om sy merk in die rugbywêreld te maak.

Denys Vorster was die agtsteman toe die Poubloues destyds – vanjaar presies 50 jaar gelede – Noord-Transvaal in die eindstryd in Kimberley verras het.

Dian Bleuler sit vroeër vanjaar af op ’n lopie teen die Ixias tydens ’n Varsitybeker-wedstryd in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Die Noord-Kapenaars, met die Springbok Mannetjies Roux as kaptein, het daardie dag Buurman van Zyl se Ligbloues teen die verwagting in met 11-9 geklop.

Dit was die derde keer – en laaste keer tot op hede – wat die Poubloues daarin kon slaag om die Curriebeker te wen.

Griekwas, wat destyds deur Ian Kirkpatrick afgerig is, is omtrent geen kans gegun om daardie dag te wen nie. Maar ’n strafdoel deur die flank Peet Smith het gesorg vir ’n sege wat vandag nog as ’n sprokiesverhaal bekend staan.

Vorster (80), wat Griekwas in sy speeldae in 77 wedstryde tussen 1962 en 1972 verteenwoordig het, woon deesdae in Bonnievale in die Wes-Kaap.

Sy kleinseun Dian Bleuler, ’n stut, het vanjaar sy buiging vir Maties in die Varsitybeker-reeks gemaak. Dié oudleerling van die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal het in 2019 vir die Junior Bokke uitgedraf.

“Ek het baie respek vir my oupa, vir die tipe mens wat hy is en hoe hy situasies hanteer. Hy het my van jongs af vertel hy wil hê ek moet ’n Springbok word – omdat hy nooit gekies is nie,” sê die 20-jarige Bleuler.

“Ek het hom (Vorster) natuurlik nooit sien speel nie, maar ek weet hy was ’n legende in sy tyd. Die kere wat hy van my wedstryde gesien het, het hy altyd opbouende kritiek gegee.

“Een ding wat hy altyd gesê het, is om goed te wees, moet jy die fiksste speler in jou posisie wees. Dit is nogal iets waarby ek hou,” sê hy.

Bleuler, wat by die Westelike Provinsie gekontrakteer is, vertel dat dit ’n “ongelooflike” ervaring was om die eerste keer vanjaar vir Maties te speel.

Hy hoop om net soos sy rolmodel, die voormalige Springbok-stut Tendai Mtawarira, ook nog vir Suid-Afrika te speel.

* Griekwas sal later vanjaar ’n reünie hou vir die span van 1970.

Die spanne daardie dag:

Griekwas: Tos Smith, Buddy Swartz, Mannetjies Roux (k), Koos Waldeck, Kat Myburgh, Piet Visagie, Joggie Viljoen, Denys Vorster, Piet van Deventer, Peet Smith, Jannie van Aswegen, Gert Scheepers, Soon Nel, James Combrinck, Popeye Joubert.

Noord-Transvaal: Tonie Roux, Chris Luther, André van Staden, CP Brand, Frannie Alberts, Johan van Blommenstein, Piet Uys (k), Fourie du Preez, Polla Fourie, Louis Muller, Frik du Preez, Johan Spies, Ronnie Potgieter, Gys Pitzer, Mof Myburgh.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.