Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas-sege oor Pumas lê grondslag

Brent Janse van Rensburg, afrigter van die Poubloues, se volgende mikpunt is om Griekwas se rugbyspan mededingend in die Curriebeker-reeks te hê en bestendigheid met spelers te verseker.

Kom hier! Michal Haznar, senter van Griekwas, kry die Pumas se heelagter, Devon Williams, beet. Foto: Gallo Images

Dit volg nadat sy span die Pumas Sondag in Saldanabaai die eindstryd van die SuperSport-uitdaagreeks met 28-13 geklop het.

“Hopelik ook dat die unie deelname as franchise aan ’n reeks van watter aard ook al in die toekoms kry. Dit sal ook wonderlik wees om deel daarvan te wees om stabiliteit by die unie te bring.

“Daar is beslis baie potensiaal hier en nog meer wat bereik kan word,” sê Janse van Rensburg, wat laat in 2018 as afrigter aangestel is.

Griekwas het die vorige twee jaar in die eindstryd vasgeval en boonop in 2014 laas ’n trofee gewen toe hulle die destydse Vodacombeker-reeks gewen het.

Sias Koen, flank van die Poubloues, word beetgekry deur Jeandré Rudolph, kantman van die Pumas. Foto: Gallo Images

Janse van Rensburg sê die oorwinning is ’n goeie beloning vir die werk wat die afgelope paar maande ingesit is.

“Ons het die SuperSport-uitdaagreeks gebruik om voor te berei vir die Curriebeker. Aanvanklik was ons op die agtervoet, omdat al ons spelers nie deel was van die voorseisoen nie.

“Dit is wonderlik om te sien dat ons beter geword het namate die kompetisie gevorder het en ons het goeie vooruitgang in ’n paar gebiede gemaak,” sê hy.

Die Poubloues het die seisoen die dienste van spelers soos Anthony Volmink en Eduan Keyter (veelsydige agterspelers), Tinus de Beer (losskakel) en Victor Sekekete (slot), wat randeiers by groter unies was, bekom.

Dit is aangevul met van die voorste Varsitybeker-spelers soos Gideon van der Merwe (flank), Johan Momsen (slot) en Chris Smit (senter).

“Daar was beslis baie veranderinge met baie nuwe spelers en personeel. Dit was van die begin af belangrik om ’n gunstige omgewing te skep en te bespreek wat ons wil bereik en hoe ons daar wil uitkom.

“Die kondisionering van die spelers en die bestuur van hul werklading was ’n ander groot fokus. Uit ’n afrigtingsoogpunt was dit ook belangrik dat spelers die waarde van detail besef en hulle rol in die span se strategie besef,” sê Janse van Rensburg.

Min het Griekwas kans gegun om Sondag te wen, veral nadat die Pumas die Poubloues vroeër met 37-28 in ’n groepwedstryd geklop het.

“Die eerste 20 minute was baie belangrik, om hulle nie toe te laat om te veel punte aan te teken nie. In die vorige wedstryd het dit hulle ’n buffer gegee, wat beteken het ons moes opvangrugby speel.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, sê Griekwas het met groter dringendheid gespeel.

“Dit is nie die uitslag wat ons wou gehad het nie. Daar was ’n paar beslissings teen ons, en Willie Engelbrecht (agtsteman) se strafskop in ’n tyd wat ons die wedstryd kon swaai, was ook nie ideaal nie,” sê hy.

Engelbrecht het die skrumskakel Zak Burger sonder die bal uit aarde geloop en die strafskop teen Griekwas is toe omgekeer.

* Griekwas het nou ’n blaaskans voordat hulle op 3 Julie na die oefenveld terugkeer. Hul eerste Curriebeker-wedstryd is op 12 Julie teen die Haaie in Durban.

Meer oor:  Pumas  |  Supersport-Uitdaagreeks  |  Saldanabaai  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.