Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas skok Haaie: Mathie se beker loop oor

Jy sou Saterdagaand ver gesoek het om ’n trotser rugbyafrigter as Scott Mathie in Durban te vind nadat sy span, die Griekwas, die Haaie in die Curriebeker (CB)-reeks geskok het.

Die Haaie se vleuel Thaakir Abrahams word deur Jay-Cee Nel, senter van die Griekwas, beetgekry. Foto: Gallo Images

Desondanks vyf geel kaarte teen hulle en 16 strafskoppe wat afgestaan is, het die Noord-Kapenaars steeds daarin geslaag om die KwaZulu-Natallers met 37-27 te klop.

“Dit is ’n ongelooflike oorwinning. Ek dink nie ek was al ooit so trots op die span gewees nie,” sê Mathie, ’n Durbaniet van geboorte.

“Die manier waarop die spelers verdedig en vir mekaar gespeel het en net al die pad geveg het, is ongelooflik. Dit was regtig ’n vertoning waarop ek trots is. Ons verdediging was ook goed en ons het ook goed gebruik gemaak van die balbesit wat ons gehad het.”

Die afgelope maande het die Poubloues omtrent in elke wedstryd in die vaste fasette gesukkel. Skrums en lynstane wat nie funksioneer nie, het al omtrent deel van die span se identiteit geword.

Ek dink nie ek was al ooit so trots op die span gewees nie.
Scott Mathie

Tog is daar agter die skerms hard aan die fasette gewerk en dit was net ’n kwessie van tyd voordat dit sou vrugte afwerp. Daardie dag was Saterdag. Dit was iets om te aanskou hoe die Haaie veral by een skrum behoorlik in trurat gesit word.

“Ons vaste fasette het goed gewerk, sowel as ons rolmaalbewegings – dit is nog iets waarop ons trots kan wees. Verlede week (teen die Leeus) het ons gesukkel in die vaste fasette, maar ons het teruggeveg,” sê Mathie.

Scott Mathie, afrigter van die Griekwas, loop oor van trots ná sy span se sege oor die Haaie in Durban. Foto: Gallo Images

Wat die dissipline betref, het dit so byna die Griekwas die wedstryd gekos. In die eerste helfte het die besoekers in ’n stadium net 13 spelers op die veld gehad, terwyl hulle laat in die wedstryd net 12 tussen die vier lyne gehad het.

Die skuldiges wat tyd in die koelkas deurgebring het, was Janu Botha (stut), Stefan Ungerer (skrumskakel), Adré Smith (slot), Sibabalo Qoma (flank) en HJ Luus (plaasvervanger-haker).

Tog het die Poubloues geduik asof hul lewe daarvan afhang. Volgens SA Rugby se webtuiste het die besoekers ’n yslike 171 duikslae uitgevoer en 38 verbrou. Daarteenoor het die Haaie slegs 81 duikslae uitgevoer en nege verbrou.

“Dit is altyd teleurstellend as jy vyf geel kaarte kry, maar ons het goed op daardie verlies gereageer,” sê Mathie. “Ons het daardie tyd goed bestuur, maar dit is altyd moeilik as so iets gebeur.”

Die Griekwas het vanjaar ook al in wegwedstryde met die Westelike Provinsie en Leeus afgereken. Die Noord-Kapenaars is tans derde op die CB-punteleer met 24 punte. Die Bulle (28) is eerste, gevolg deur die Haaie (25)

• Die Poubloues, wat ná dese as ’n ernstige aanspraakmaker in vanjaar se reeks beskou moet word, kom Vrydag teen die Johannesburgers in Kimberley te staan.

Meer oor:  Durban ­  |  Scott Mathie  |  Griekwas  |  Rugby  |  Curriebeker-Reeks  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.