Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas trek stoeikampioen van Afrika nader

Spanne wat in die afsienbare toekoms teen Griekwas op die rugbyveld te staan kom, kan maar weet in die skrums gaan letterlik en figuurlik gestoei word.

Die span van Kimberley het die dienste bekom van Andries Schutte, wat Suid-Afrika voorheen in stoei verteenwoordig het.

Andries Schutte was ’n paar jaar gelede ’n kranige stoeier. Foto: Argief

Schutte (27) het van 2014 tot 2018 in 73 wedstryde vir die Valke gespeel en daarna sy rugbystewels weggepak.

Maar toe die telefoon van dié elektrisiën in Mpumalanga se wêreld onlangs lui, het die vooruitsig om weer tussen die vier lyne te wees net te aanloklik geklink.

“Rugby is nog altyd my passie. Werk is lekker, maar ’n ou soek maar aksie. Die ouens hier by die unie (Griekwas) het my gekontak en gevra of ek sou belangstel om weer te speel,” sê Schutte.

Een van dié Secunda-boorling se prestasies as ’n stoeier is dat hy ’n paar jaar gelede die titel Afrika-kampioen agter sy naam kon skryf. (Daar is toevallig ook ’n ander Andries Schutte wat Suid-Afrika in stoei verteenwoordig het.)

Tog erken Schutte, ’n vaskopstut, dat daar ’n bultjie of twee op hom wag voordat hy weer op die veld kan draf.

Andries Schutte se koms na Kimberley kan die Poubloues in die toekoms meer gedug in die skrums maak. Foto: GWRU

“Die uitdaging nou is om weer fiks te word en om my liggaam weer gewoond te maak aan die kontak. Maar ’n ou tel dit darem weer vinnig op,” sê hy.

“Dit is egter vir my ’n lekker uitdaging om weer te kan speel. Ek sien uit daarna om weer op die veld te kom.”

In die laaste jaar of wat het die Poubloues van tyd tot tyd in die skrums tweede viool gespeel, maar dit kan nou met Schutte se koms straks iets van die verlede wees.

Iemand wat Schutte goed ken, is Rudy Joubert, wat tot onlangs die Valke se direkteur van rugby was.

“Andries is ’n goeie spanman en iemand wat sy bydrae lewer. Skrumwerk is een van sy sterk punte en ek dink hy is ook nou op ’n goeie plek wat sy ouderdom betref,” sê Joubert, wat tegniese raadgewer van die Springbokke was toe hulle die Wêreldbeker-toernooi in 1995 gewen het. Hy was ook een van Rudolf Straeuli se hulpafrigters toe die Bokke in 2003 in Australië in die Wêreldbeker-toernooi gespeel het.

“Boonop is hy (Schutte) iemand wie se ondersteunende spel by die lynstane goed is en hy verdedig goed by die losgemale en by die afbreekpunte.”

Meer oor:  Voorbereidingsreeks  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.