Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas verloor Koen, kry Bholi

Ná meer as vier jaar by Griekwas het die vuurvreter-flank Sias Koen besluit dit is tyd om sy wortels op te trek en hom in Frankryk te vestig.

Sias Koen beur vorentoe in ’n kragmeting met die Westelike Provinsie in die SuperSport-uitdaagreeks in 2019. Foto: Gallo Images

Die 26-jarige Koen, wat sedert 2016 vir die Poubloues gespeel het, het ’n kontrak van twee jaar met Béziers, ’n span in die Franse tweede liga, gesluit. Hy en sy gesin wag net vir hul visums voordat hulle sak en pak Europa toe verhuis.

“Ek wag al lank vir so ’n geleentheid en toe dit oor my pad kom, kon ek net nie nee sê nie. Ek is mal oor Griekwas, maar dit was tyd vir ’n nuwe avontuur en ek is seker die verandering sal my goed doen,” sê Koen.

Dié boorling van Bloemfontein het in 2015 sy senior buiging vir die Haaie se 15-tal gemaak en meer as 50 keer vir Griekwas uitgedraf. Laat verlede jaar het hy hom by die Cheetahs as ’n leenspeler vir die Pro14-reeks aangesluit en weekliks tussen Kimberley en die Rosestad gependel.

“Ek was in my tyd by Griekwas deur diep waters, ek was daar in die tye wat dit goed gegaan het en tye wat dinge nie goed gegaan het nie.

“Die hoogtepunt was waarskynlik toe ons verlede jaar die SuperSport-reeks gewen en die halfeindronde van die Curriebeker gehaal het – iets wat ons lank gelede reeds moes vermag het,” sê Koen.

Thembelani Bholi in aksie vir die Blou Bulle tydens ’n Curriebeker-wedstryd in 2018. Foto: Gallo Images

Hy besef dit gaan nie maklik wees – buiten die taalverskil – om in die vreemde aan te pas nie. Koen en sy vrou, Wilné, se eersteling, Lara, is in Mei gebore.

“Dit gaan ’n bietjie anders wees as iemand wat op sy eie reis, maar hulle (sy vrou en kind) is my grootste ondersteuningsbasis. Hulle ondersteun my op maniere wat ’n mens nie eens altyd besef nie.”

Koen sal darem nie heeltemal alleen in die vreemde wees nie. Die voormalige Cheetah en Blitsbok Robert Ebersohn is ook by Béziers en dié twee is reeds in gesprek om die aanpassing in die vreemde so naatloos moontlik te probeer maak.

Koen is van sy kontrak vrygestel en die Poubloues het Thembelani Bholi tot aan die einde van die Curriebeker-reeks by die Southern Kings geleen. Die 30-jarige Bholi is ’n ervare kantman, wat al in die Pro14-reeks gespeel en voorheen vir die Bulle in die Superreeks uitgedraf het.

Meer oor:  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.