Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas wil nie kar voor perde inspan
Niell Jordaan in aksie vir die Vrystaat-Cheetahs tydens ’n Curriebeker-wedstryd in 2018. Foto: Gallo Images

Wanneer die Curriebeker-reeks binnekort begin, sal ondersteuners van Griekwas wil sien of dié span kan voortbou op sy sukses in 2019.

Maar Niell Jordaan, een van die Poubloues se strydrosse, sê Griekwas sal versigtig wees om dinge nie vooruit te loop nie.

Die Poubloues het verlede jaar die halfeindronde van die Curriebeker-reeks gehaal – iets wat die span van Kimberley nie elke jaar beskore is nie.

“Verlede jaar se vertoning skep die verwagting dat ons weer goed moet vaar, maar tans plaas ons nie druk op onsself om dieselfde prestasie te behaal nie,” sê Jordaan, losvoorspeler van Griekwas.

Verlede jaar se vertoning skep die verwagting dat ons weer goed moet vaar, maar tans plaas ons nie druk op onsself om dieselfde prestasie te behaal nie.
Niell Jordaan

“Ons gaan dit week vir week vat. Elke week het sy eie uitdagings en jou uitvoering en beplanning vir daardie spesifieke wedstryd is van groot belang.

“Dit gaan uiters belangrik wees dat ons goed voorberei is. Ek hoop dít wat ons die afgelope jaar geoefen het, kan ons gaan uitvoer as ons op die veld is. Sodat ons regtig aan die ondersteuners kan wys dat ons die afgelope jaar hard gewerk het,” sê hy.

Die verwagting is dat die Curriebeker-reeks in Oktober gaan begin en dan oor ’n dubbelronde beslis sal word, met die eindstryd wat eers in Januarie gespeel sal word.

Maar die 28-jarige Jordaan, wat voorheen ook vir die Cheetahs gespeel het, verklap dat daar tog optimisme in die Griekwas-kamp heers en dat hulle brand om hul staal te wys.

Sias Koen (met die bal), flank van Griekwas, word grond toe gebring, met die agtsteman, Niell Jordaan, wat hand by sit tydens ’n kragmeting met die Goue Leeus in 2019. Foto: Emile Hendricks

“Ek moet sê dinge lyk baie goed vandat ons met kontakoefeninge kon begin. Die manne klim lekker in. Ons het nou al meer as ’n jaar gelede ons laaste wedstryd gespeel en as ek vat al die harde werk wat die bestuur en die spelers sedertdien ingesit het, kan jy nie help om uitgehonger vir rugby te wees nie,” sê Jordaan.

“So die hele span wag opgewonde vir die amptelike aankondiging dat die kompetisie gaan begin.

“Die groep ouens wat ons hier het, is meestal relatief jonk, maar hulle is regtig volwasse en professioneel in hul optrede op die veld. Ek dink regtig hier is ’n paar ouens wat vanjaar hul hande gaan opsteek en naam vir hulself gaan maak, maar ook gaan voortbou op verlede jaar se reeks.”

Griekwas het in 2019 die reeks op ’n hoogtepunt afgeskop deur die Haaie (37-13) in hul eerste wedstryd in Durban te klop. Daarna het hulle met die Blou Bulle (37-15) in Pretoria en die Westelike Provinsie (27-23) in Kimberley afgereken.

• Die Poubloues sal twee oefenwedstryde speel voor die seisoen begin. Hulle pak die Vrystaters op 26 September in Kimberley en ’n week later, op 2 Oktober, is die spanne in Bloemfontein slaags.

Meer oor:  Niell Jordaan  |  Sias Koen  |  Jimmy Stonehouse  |  Kimberley  |  Poubloues  |  Halfeindronde  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.