Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griffons gaan sy spelers net vir 8 maande betaal

Die Griffons Rugbyunie het die afgelope week die eerste rugbyunie in Suid Afrika geword wat sy kontraktering van spelers drasties moet aanpas weens die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se besnoeiing van finansiering vir die kleiner unies.

Die Griffons is een van die 14 unies wat goed bestuur word en telkens ’n wins maak, maar Saru se besnoeiing van 52% aan die geld wat aan die Griffons oorbetaal word, het daartoe gelei dat hulle Donderdag gedwing is om hul spelers in te lig dat alle kontrakte op 31 Oktober vanjaar verstryk.

Met sowat R10,14 miljoen minder aan inkomste, moes die Griffons-bestuur die drastiese stap doen om jaarkontrakte vir spelers op te skort en spelers voort­aan vir net agt maande van die jaar – van Maart tot einde Oktober – te kontrakteer.

Alle spelers sal ook teen dieselfde bedrag gekontrakteer word om te verseker dat die Griffons binne sy begroting bly.

Dié aankondiging kom nadat vyf van die sogenaamde klein unies – die Griffons, Boland, Grens, Valke en Luiperds – Saru hof toe wil neem oor die veranderinge aan die begroting, wat volgens hulle teenstrydig is met die befondsingsmodel waarop ooreengekom is.

Die saak sloer al ’n rukkie, maar albei partye het hulself verbind tot ’n arbitrasieproses wat Donderdag plaasvind.

Die klein unies sal deur Hannes Pyper en die Griffons se dr. Jan Marais verteenwoordig word.

Volgens Marais was die besluit om hul stelsel van kontraktering te verander nodig omdat hulle geen ander keuse het nie.

“Tans stuur ons af op ’n verlies van R5 miljoen vir die jaar,” het Marais gesê. “Ons is gelukkig dat ons reserwes het wat die verliese kan dek, maar volgende jaar sal ons dit nie kan doen nie.”

Eugene van Wyk, die Griffons se uitvoerende hoof, het aan Rapport gesê dit was nie ’n maklike besluit nie.

“Ons moes met die spelers eerlik wees oor die situasie, en hulle kans gee om na hul toekoms te kyk. As hulle elders gekontrakteer kan word, moet ons dit vir hulle moontlik maak.”

Marais het bygevoeg dat die prentjie kan verander as hulle in hul doel slaag om meer geld by Saru te kry.

“Ons sal dan die situasie hersien,” het hy gesê.

Volgens Rapport se inligting is die Griffons een van die stabielste unies van die sogenaamde kleintjies. Vir van die ander kan die inkorting van finansiële steun rampspoedig wees, met veral Grens wat net onlangs ’n likwidasie-aansoek van sy spelers vermy het.

Rapport het vroeër berig die klein unies het 52% minder as die vorige jaar uit Saru se geldkoffer kry.

Griekwas en die Pumas kry 44% minder. Die vier Super-franchises kry vanjaar 10% minder as in 2017.

Die klein unies beweer SA Rugby het ongrondwetlik opgetree deur nie by die 2015-befondsingsmodel te hou nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.