Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griffons kry slaankrag vir Curriebeker

Een van die Ixias se uitblinkers in die afgelope Varsitybeker-rugbyreeks, Niell Stannard, sal vanjaar vir die Griffons in die Curriebeker se Eerste Liga diens doen.

Stannard (25), ’n senter, het hom Maandag in Welkom by die Perses aangemeld. Hy het vantevore al vir die Griffons gespeel en dié span tussen 2018 en 2019 in 12 wedstryde verteenwoordig.

Niell Stannard druk ’n drie vir die Ixias teen die Madibaz toe die twee spanne mekaar in April in die Varsitybeker-reeks die stryd aangesê het. Foto: Gallo Images

Stannard is ’n oudleerling van Grey Kollege van Bloemfontein, wat vanjaar goeie spel saam met sy vennoot in die middelveld in die studentereeks, die oud-Blitsbok Heino Bezuidenhout, vir die Ixias gelewer het.

“Dit is lekker om weer by die Griffons te wees. Daar is ’n klomp nuwe gesigte, maar die span lyk goed. Die eerste oefensessie het goed verloop,” sê Stannard.

Die afgelope paar jaar speel hy meestal buitesenter, maar hy kan ook op losskakel help as dit moet. Nou hoop Stannard om sy goeie peil van die Varsitybeker na die Eerste Liga oor te dra – en hy droom groot drome.

“Hopelik kan ek voortgaan waar ek opgehou het. Ek wil graag die seisoen geniet en net my beste lewer. As ek dalk ’n kontrak by ’n groter unie kan kry, sal dit gaaf wees, maar as dit nie gebeur nie, is dit ook oukei.

“Ek geniet die tipe rugby wat hier gespeel word, ons het vrye teuels om onsself uit te leef,” sê Stannard.

Die veelsydige agterspeler Morné Joubert, wat senter of vleuel kan speel, word deur die Pumas aan die Griffons geleen, het Marius van Rensburg, uitvoerende hoof van die Laevelders, bevestig.

Morné Joubert word deur die Pumas aan die Griffons geleen. Foto: Gallo Images

Joubert (25) is ’n oudleerling van die Glenwood High School in Durban, wat die Suid-Afrikaanse Skolespan in 2014 verteenwoordig het.

Die Griffons begin hul aanslag op die titel in die Eerste Liga op 19 Junie teen die Grens in Oos-Londen. Die reeks is weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 beslis nie.

In 2019 se eindstryd het die Noord-Vrystaters teen die Jaguares se 15-tal in die eindstryd vasgeval.

Intussen blyk dit dat die Griffons belangstelling in nog spelers van die Ixias toon.

Pieter Bergh, afrigter van die studente, wys egter daarop dat die Ixias-spelers by hulle gekontrakteer is en dat versoeke om spelers vry te stel individueel oorweeg sal word.

In Stannard se geval is hy te oud om in 2022 weer in die studentereeks te speel.

“As hulle nou vir ’n paar maande Welkom toe gaan, gaan hulle nie studeer nie,” sê Bergh.

“Dan beteken dit dat hulle nie gaan deurkom nie en ook nie genoeg krediete gaan hê om aanstaande jaar vir ons in die Varsitybeker te speel nie.”

• Intussen het Griekwas die dienste van die Ixias se stut Eddie Davids bekom. Nog ’n stut van die studentespan, Janu Botha, het reeds in Kimberley by sy nuwe span begin sweet.

Ook Luyolo Dapula, slot en kaptein van die Madibaz, het Maandag by Griekwas aangemeld.

Meer oor:  Griffons  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.