Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Groentjies op toer kry straks gou kans

Vier jongelinge wat in die toekoms nog groot rolle vir die Southern Kings-rugbyfranchise kan vertolk, kry dalk gou ’n kans om te wys wat in hulle steek.

Die losvoorspeler Luyolo Dapula en die veelsydige agterspelers Edmund Ludik, Christopher Hollis en Josiah Twum-Boafo is almal in die Kings se toergroep vir hul komende Pro14-wedstryde teen Munster en die Scarlets ingesluit.

Christopher Hollis is een van verskeie talentvolle jongelinge wat tans saam met die Kings in Ierland toer. Foto: Gallo Images

Twum-Boafo en Hollis het darem al hierdie seisoen hier en daar speelkans in die uitsoekspan gekry.

Met Yaw Penxe uit met ’n besering kan Twum-Boafo hom hierdie Vrydag in Ierland weer in die Kings se beginspan teen Munster bevind.

Hollis kan ook as vleuel of senter oorweeg word, maar hy sal vermoedelik eerder op die plaasvervangersbank sit.

Dapula en Ludik moes sover hierdie seisoen hard spook om speelkans te kry. Albei het hul kans ’n paar weke gelede in ’n vriendskaplike wedstryd teen die Stormers aangegryp.

Luyolo Dapula kan binnekort sy Pro14-debuut vir die Kings maak. Foto: Southern Kings

Omdat die agtsteman Elrigh Louw weens ’n hoogvat vir ’n week geskors is, kan Dapula dalk hierdie week teen Munster in aksie wees.

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter, moet sy lostrio uit Dapula, Thembelani Bholi, Ruaan Lerm en Bobby de Wee kies.

Dapula was op skool – in Queenstown – nog ’n slot wat in 2018 ongelukkig was om nie vir die Junior Springbokke in die Wêreldbekertoernooi in Frankryk te speel nie.

Hy het goeie opgang by die Cheetahs gemaak voordat hy hom hierdie seisoen by die Kings aangesluit het.

Ludik is ’n veelsydige agterspeler wat in Oos-Moot in Pretoria op skool was.

Hy het as junior tyd by die Leeus deurgebring voordat hy ook hierdie seisoen na Port Elizabeth verhuis het.

Ludik kan losskakel speel, maar word in hierdie stadium meer op senter gebruik. Hy is ook ’n bruikbare stelskopper.

Hy sal ook waarskynlik net speelkans op toer kry indien van die meer ervare spelers beseer sou word.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Munster  |  Pro14  |  Southern Kings  |  Rugby  |  Scarlets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.