Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Grondpad’ het Pumas se Giovan gebrei
Giovan Snyman, skrumskakel van die Pumas. Foto: Pumas

Om die sprong van skolerugby na senior provinsiale rugby te maak, is in sommige gevalle ’n grondpad met ’n paar slaggate – iets waarvan die Pumas se Giovan Snyman eerstehands kan getuig.

Snyman (21) is in die Laevelders se beginspan ingesluit vir Vrydag se kragmeting met die Leeus in die voorbereidingsreeks in Johannesburg.

Hoewel steeds jonk, moes dié skrumskakel die afgelope paar jaar leer om geduldig sy kans af te wag. En dat dinge nie altyd uitwerk soos jy hoop nie.

Snyman het in 2017 aan die Hoërskool Waterkloof gematrikuleer en die Bulle daardie jaar op die Cravenweek-toernooi verteenwoordig. Hy het hom ná skool by die Leeus aangesluit en reeds in 2018 vir Wits in die Varsitybeker-reeks gespeel.

Toe Snyman en die Johannesburgers se paaie die einde van daardie jaar skei, het hy hom vir ’n proeftydperk by die Bulle aangesluit. Dit was toe dat Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, hom gekontak het met die aanbod om ’n Laevelder te word.

Snyman het nie twee keer gedink nie, maar hy het in 2019 net een keer vir die Pumas gespeel en is aan die Luiperds geleen. Hy het vier keer vir die Potchefstromers uitgedraf.

“Dit is my eerste geleentheid (Vrydag) in die beginspan. Ek moet net koelkop bly en die beste daarvan maak,” sê Snyman.

“Ek het in die SuperSport-reeks (vir die Pumas in 2019) gespeel, maar hulle het aan my gesê dat hulle my aan die Luiperds gaan leen sodat ek meer speelkans kan kry.

“Die vyf weke wat ek daar was, was ’n goeie geleentheid. Een van die spanne teen wie ons gespeel het, was die Jaguares-vyftiental (in die Curriebeker se Eerste Liga). Die meeste van daardie ouens speel vandag toetsrugby vir Argentinië.”

Spelers van die Pumas hou kajuitraad tydens hul wedstryd in Desember 2020 teen die Westelike Provinsie in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Snyman vertel dat hy in die laaste jare ’n aanpassing of twee moes maak, toe hy besef het dat hy van rugby ’n loopbaan wil maak.

“Daar is jong spelers soos Damian Willemse (Westelike Provinsie) en Curwin Bosch (Haaie) wat reeds op ’n jong ouderdom suksesvol op ’n hoë vlak is,” sê Snyman.

“Maar ek dink om die volgende stap van skolerugby of so te maak, is grootliks sielkundig. Die kontak is ’n bietjie harder, terwyl die spel soms vinniger, maar ook soms stadiger is – dit hang af teen wie jy speel.

“Jy moet egter oopkop wees. In my geval wou ek nog ’n jong mens wees. Tog, as jy ernstig is, kan jy dit nie bekostig nie.”

Spelers soos Ginter Smuts, Dian Badenhorst en Chriswill September blaas almal in Snyman se nek vir die Pumas se nr. 9-trui.

“Dit gaan letterlik oor die ou wat die minste foute maak en sy geleenthede die beste benut. Ek dink ek het die X-faktor en beskik oor spoed. Daarby is ek nie bang vir kontak nie,” sê Snyman.

Op die vraag oor die spelling van sy naam, lag Snyman lekker. ’n Soektog op die internet lewer immers “Giovan” en “Giovanne” op.

“Sedert my afrigter op skool my naam verkeerd gespel het, sukkel ek my dood om dit reggestel te kry. Hy het dit vir die Cravenweek gestuur as “Giovanne” – en baie mense dink dus dit word so gespel,” sê hy.

Meer oor:  Pumas  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.