Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Groot belang vir rugby se WB-toernooie
Alan Gilpin, Wêreldrugby se bedryfshoof. Foto: Getty Images

Die Covid-19-pandemie het baie rugbyunies finansieel teen die planke gelaat, maar die enorme geldelike voordele wat die aanbied van ’n Wêreldbeker-toernooi inhou, het meegebring dat daar steeds groot belangstelling onder Wêreldrugby-lidlande is om gasheer te speel vir die toernooie in 2027 en 2031.

So het Alan Gilpin, Wêreldrugby se bedryfshoof, in ’n onderhoud met Reuters gesê.

Die volgende WB-toernooi is in 2023 in Frankryk en die spel se internasionale beheerliggaam is tans met ’n proses besig om belangstelling te toets vir die twee skouspelle daarna, asook die vroue se WB-toernooie in 2025 en 2029.

Rusland en Australië het reeds hul name in die hoed gegooi vir die 2027-toernooi, maar Gilpin, wat oorhoofs ook vir WB-toernooie verantwoordelik is, glo nog lande sal hul voorbeeld volg.

“Daar is baie sterk belangstelling, rêrig sterk belangstelling, wat fantasties is,” het Gilpin vanaf sy huis in Epsom in die suide van Londen gesê.

Die pandemie het verlede jaar groot ontwrigting op die rugbykalender tot gevolg gehad en spanne soos Japan, die WB-gasheer in 2019, en Suid-Afrika, die kampioenspan in Japan, kon byvoorbeeld in 2020 geen toetse speel nie.

Daar is geen twyfel nie dat ’n WB-gesprek vir ons lidlande en hul regerings – want regerings is belangrike vennote in ’n bodproses – in die huidige konteks baie moeilik is.
Alan Gilpin

Die wesenlike wins wat Wêreldrugby in die Japan-toernooi gemaak het, het hom in staat gestel om baie sukkelende unies te midde van die pandemie te help en Gilpin sê hulle het baie begrip vir die uitdagende omstandighede waarin baie lidlande hulle tans bevind.

“Daar is geen twyfel nie dat ’n WB-gesprek vir ons lidlande en hul regerings – want regerings is belangrike vennote in ’n bodproses – in die huidige konteks baie moeilik is.

“Selfs daardie lande wat baie belangstel (om ’n bod in te dien), verkeer onder geweldige finansiële druk. Ek dink hulle beskou die toekomstige aanbied van ’n WB as ’n tipe horison wat anderkant al hul huidige probleme lê.”

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Players of South Af
Die Springbokke vier hul oorwinning in 2019 se Wêreldbeker-eindstryd oor Engeland in Japan.

Japan het vanuit ’n kommersiële oogpunt die suksesvolste WB-toernooi tot nog toe aangebied, met dié skouspel wat ’n omset van R85 miljard gehad en R45 miljard tot Japan se BBP bygedra het.

Gilpin sê gegewe die huidige finansiële klimaat sal Wêreldrugby beslis nie gekant wees indien sommige lidlande dalk met ’n gesamentlike bod vorendag kom, sodat die finansiële las dus nie net op een land rus nie.

Volgens Gilpin hoef ’n gesamentlike bod nie beperk te word tot aangrensende lande nie, maar kan ’n streek selfs so ’n bod oorweeg.

’n Besluit oor wie die volgende WB-toernooi vir mans en vroue sal aanbied, word in Mei 2022 verwag.

Dis nog onseker of Suid-Afrika, wat onsuksesvol in die laaste klompie bodprosesse was, ook sy naam in die hoed sal gooi vir die toernooi in 2027 en 2031. – Reuters

Meer oor:  Alan Gilpin  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.