Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Groot en klein baljaar vir Bokke

Dit het die Springbokke 3 619 dae geneem om uiteindelik weer hul hande op ’n trofee te kry – en tog is dít nie die droogte wat Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners desperaat was om gebreek te sien nie.

Ystermanne . . . Die voorry van Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira en Trevor Nyakane vier die Bokke se Rugbykampioenskap-titel Saterdag in Salta. Foto: Getty Images

Met die Rugbykampioenskaps-heuwel oorkom, draai die fokus nou na die Wêreldbeker-berg. Wanneer die Webb Ellis-trofee op 2 November baas kry, sal daar reeds 4 396 dae verloop het sedert dit laas in Suid-Afrikaanse hande was.

Ná Duane Vermeulen-hulle die Argentyne Saterdag in Salta met 46-13 verniel het, sal jy nou ver soek na ’n Springbok-ondersteuner wat meen daardie droogte kan nie ook vanjaar eindig nie. Die Klas van 2019 het sy fêns tot dusver maar min gegee om oor te frons. Soos hulle weer in Salta gewys het, weeg die positiewe aspekte van die Bokke se spel veel swaarder as die negatiewe.

Die groot manne brul

Daar was twee wêreldklas-voorrye op die veld in Salta Saterdag, is op Twitter laat hoor. Net jammer vir die Argentyne dat albei in die Groen-en-Goud gespeel het.

Twee weke nadat die voorry-kombinasie van Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe in Wellington teen die All Blacks by net een skrum ore aangesit kon word, het ’n nuwe drietal van Beast Mtawarira, Bongi Mbonambi en Trevor Nyakane in Salta vuur in die oond gemaak soos die Argentyne lanklaas ervaar het.

Die halfdosyn strafskoppe wat hulle in die skrums gewen het, dui aan dat Mtawarira op 33 nog lank nie koud is nie en dat niemand meer vrae oor Nyakane se deugde as vaskopstut mag vra nie.

Daar kan ook nie meer aan die Bul-stut se toegewydheid getwyfel word nie. Hy het 15 duikslae uitgevoer – ongehoord vir ’n stut en meer as enige ander speler op die dag – in net 50 minute op die veld.

Handre Pollard het 31 punte tot die Bok-totaal bygedra. Foto: Getty Images

’n Span met min swakplekke

Die feit dat Rassie Erasmus sy spelers reeds twee weke voor die einde van die Superreeks bymekaar kon trek, was duidelik goud werd. In daardie ekstra tyd het elke speler gemaklik geraak met Jacques Nienaber se verdedigingstruktuur, kon Mzwandile Stick skaaf aan hul aanvallende benadering en posisionering en kon Erasmus-hulle werk aan hul samespel en sielkundige krag.

Dit was in Salta duidelik dat elke speler weet wat van hom verwag word, bereid is om sy lyf op die spel te plaas en glo in die visie van sy afrigters.

Die enigste keer wat die Bok-linie deurpriem is, was in die tweede minuut. Daarna was daar egter geen teken van onsekerheid op die verdediging nie, met elke enkele speler wat ’n groot skof ingesit het.

Op die aanval was daar doelgerigtheid, hoewel Faf de Klerk se skopskoen met tye meer hindernis as hulp was. Dit is egter omtrent die enigste aspek van die Bok-vertoning wat gekritiseer kan word.

Cheslin Kolbe is Saterdag goed dopgehou deur die Argentynse verdedigers. Foto: Getty Images

Kookwater-Kolbe

In Wellington het sy terriëragtige verdediging die All Blacks se Rieko Ioane heel in sy dop laat kruip en sy eksie-perfeksie-skop tot Herschel Jantjies se doodsnik-drie gelei. Maar net toe ons gedink het ons het nou elke skerp pyl in Cheslin Kolbe se koker gesien, gaan hou hy Saterdag vir 10 minute sy lyf skrumskakel terwyl Faf de Klerk in die koelkas is – en doen dit met die kalmte en vernuf van ’n veteraan-nr. 9.

Die oud-Bok-breier Nick Mallett sê al vir maande Kolbe kan goud werd wees agter die skrum, en was so beïndruk deur daardie tienminuut-skof dat hy meen die buksie kan as vleuel én derdekeuse-skrumskakel Wêreldbeker toe geneem word.

Dis ’n geldige voorstel, aangesien dit dan in die groep van 31 sal plek maak vir ’n ekstra speler in ’n ander posisie. Die diepte in haas elke posisie is immers iets wat Erasmus nog vreeslik gaan laat kop krap in die komende weke.

Aanspraakmakers in oorvloed

Vier wêreldklas-stutte. Twee wêreldklas-hakers. Soveel slot-diepte dat Lood de Jager die Kampioenskapstitel in ’n blou T-hemp gevier het.

In die vaste vyf het die Bokke nou die weduwee se kruik: ’n skynbaar onuitputbare bron van talent.

Onder die flanke het Kwagga Smith, Francois Louw en Pieter-Steph du Toit al die regte geluide in die Kampioenskap gemaak, terwyl Rynhardt Elstadt gerus nog ’n kans kan kry om te wys waartoe hy in staat is en Siya Kolisi gou weer terug in die lostrio sal wees.

Dit was ’n jaar gelede ondenkbaar dat die Bokke so kort voor die Wêreldbeker soveel skrumskakel-diepte sou hê soos nou. Op losskakel sal dit ’n gekners van tande afgee as die onverbeterlike Handré Pollard nou iets oorkom, maar Elton Jantjies is mans genoeg om sy skoene vol te staan.

Aphiwe Dyantyi se besering het hom uit die Kampioenskap gehou, en saam met S’bu Nkosi, Makazole Mapimpi en natuurlik Kolbe maak hy die vleuel-spens mooi vol. Op heelagter sal dit Erasmus baat om Warrick Gelant hierdie naweek op die Poemas los te laat, om seker te maak daar word druk op Willie le Roux gehou.

Meer oor:  Argentinië  |  Cheslin Kolbe  |  Bokke  |  Duane Vermeulen  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.