Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Groot Vyf rig SOS aan SA Rugby

Suid-Afrikaanse rugby se vyf franchises wag in spanning vir ’n helpende hand van SA Rugby, terwyl kontantvloeiprobleme ná die geldelike terugslae weens die Covid-19-pandemie dreig om hulle lam te lê.

Een rugbyadministrateur het aan Rapport gesê soveel as sewe van die land se rugbyunies het SA Rugby reeds om finansiële hulp gevra. ’n Ander administrateur sê die vyf franchises het hul moederliggaam al in Augustus as ’n kollektief genader.

Na verneem word, is die franchises meegedeel dat daar nie oor enige geldelike bystand gepraat kan word voor daar sekerheid is oor SA Rugby se inkomste uit TV-regte vir die Rugbykampioenskap en gesprekke met SuperSport nie.

Oor hoeveel geld in SA Rugby se bankrekening gaan beland sodra die TV-gelde uitbetaal word, is daar boonop nou ’n Babelse verwarring.

Volgens ’n berig in die Daily Maverick sal SA Rugby steeds nagenoeg R130 miljoen ontvang, al het hy aan vanjaar se Rugbykampioenskap onttrek.

’n Woordvoerder van SA Rugby het egter die afgelope week aan Rapport gesê hulle kan nie die bedrag bevestig nie, aangesien dit “onwaar” is.

Die Daily Maverick skryf voorts dat SA Rugby R189 miljoen sou ontvang het as die Bokke wel deelgeneem het.

Mense vergeet Suid-Afrika maak die grootste TV-kykergetalle in die Sanzaar-vennootskap uit.

“Onthou Sanzaar is maar soos enige besigheid. Daar is aandeelhouers en almal deel in die winste. Al speel ons nie, sal ons in die winste deel,” het ’n ingeligte gesê.

“Die belangrike ding is dat SA Rugby iets uitkry. Mense vergeet Suid-Afrika maak die grootste TV-kykergetalle in die Sanzaar-vennootskap uit. Dis waarom Jurie Roux-hulle daardie uitbetalings so kon onderhandel.”

Geeneen van die rugbyadministrateurs met wie Rapport die afgelope week gepraat het, kon egter met sekerheid bevestig of SA Rugby die beweerde R130 miljoen vir finansiële bystand gaan gebruik nie. Dis ook onduidelik of die beheerliggaam al van Dag 1 af begroot het om dit te ontvang.

Jurie Roux

“Volgens my is die beweerde R130 miljoen nie bykomend nie en was dit altyd deel van hul Covid-19-besparingsplan,” het ’n rugbyadministrateur gesê. “Ek weet nog nie waar SA Rugby geld vir geldelike bystand vir sy franchises gaan kry nie, anders as om ’n voorskot op die winste van die Britse en Ierse Leeu-toer te gebruik.”

’n Vierde administrateur was dit met hom eens. “Ek dink nie die franchises is onder meer finansiële druk as wat hulle voorspel het in April toe die hele Covid-19-besparingsplan geïmplementeer is nie. Almal het redelike verliese vir 2020 vooruitgeskat. 

“Wat egter kommerwekkend is, is dat die kontantvloei nou ’n yslike probleem raak. SA Rugby bly hul finansiële hulp uitstel, wat die franchises noodsaak om na hul aandeelhouers om hulp te hardloop.”

Die land se kleiner unies het volgens Rapport se bronne nie soortgelyke kopsorge nie.

“Die kleintjies se uitgawes is min (onder meer omdat die Eerste Liga nie plaasvind nie) en sommiges het selfs kontant in die bank. Die grotes het egter ’n klomp spelers en personeel wat betaal moet word,” is aan Rapport gesê. “Dit is nie die hele Suid-Afrikaanse rugbybedryf wat kas toe is nie. Dis eerder die grotes wat in die moeilikheid is.” 

Die unies het wel tans kleiner salarisrekeninge as in die verlede.

Spelers het ingestem om tot einde vanjaar kleiner salarisse te ontvang aangesien unies se inkomste weens die impak van die Covid-19-pandemie ingekrimp het.

Dit is nie die hele Suid-Afrikaanse rugbybedryf wat kas toe is nie. Dis eerder die grotes wat in die moeilikheid is.

Nou blyk dit egter sommige spelers sal vir selfs langer gedwing word om skraler inkomstes te aanvaar. Hoewel die bedryf as geheel nie meer salarisverminderings sal afdwing nie, kan individuele unies wel besluit om nie die spelers se kraantjie groter oop te draai nie, omdat hulle finansieel swaar trek.

Die uitvoerende hoofde van twee rugbyunies het aan Rapport bevestig hulle oorweeg verdere salarisverminderings. MyPlayers, die spelers se vakbond, sê egter dit sal nie gebeur nie.

“Werkgewers (die unies) het tot dusver geen aanduiding gegee dat daar ’n behoefte vir kollektiewe verlagings ná 31 Desember 2020 bestaan nie,” het Eugene Henning, uitvoerende hoof van MyPlayers, aan Rapport gesê.

Die werknemersvakbond Sports Employees Unite se uitvoerende hoof, Piet Heymans, bied egter ’n ander werklikheid as Henning.“Die realiteit is dat daar finansiële druk is. Ons is reeds besig om by een unie raad te gee oor hoe om die druk van die werkgewer af te haal. Daar was gesprekke oor vrywillige skeidingspakkette vir van hul werknemers wat nou afgehandel is en in Januarie in werking sal tree,” sê Heymans. 

Meer oor:  Salarisse  |  Sa Rugby  |  Geldelike Hulp  |  Franchises  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.