Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gio: Klubs, beserings laat deur oopswaai

Beserings en oorsese klubverpligtinge kan Rassie Erasmus dwing om ’n spreekwoordelike haas uit die hoed te pluk deur Gio Aplon vir sy Springbok-toergroep na Europa te kies.

Aplon en Duane Vermeulen gaan na verwagting in die Bok-oefengroep wees wat vandag aangekondig word. Die groep trek vandag op Stellenbosch byeen vir ’n kamp met die oog op die toer na Europa.

Gio Aplon.

Die Bokke wat in Europa speel, asook die spelers wat in Saterdag se Curriebeker-eindstryd betrokke is, sal nie deel van die oefenkamp wees nie.

Die uiteindelike Springbok-toerspan, wat uit 35 spelers kan bestaan, sal ná die Curriebeker-eindstryd aangekondig word.

Die 36-jarige Aplon het in 2012 in sy 17de en laaste toets teen Engeland in Port Elizabeth gespeel. Hy kan nou ses jaar later weer die Bok-trui aantrek.

Aplon en Vermeulen se betrokkenheid by klubs in Japan tel in hul voordeel, want anders as die Bokke wat in Europa speel, is hulle beskikbaar om op 3 November op Twickenham teen Engeland te speel.

Aplon speel vir Jake White se Toyota Verblitz-span en Vermeulen vir Frans Ludeke se Kubota Spears.

Willie le Roux, Erasmus se eerstekeuse-heelagter, is weens klubverpligtinge by Wasps nie vir die Engelse toets beskikbaar nie. Hy kan ook 17 November s’n teen Skotland op Murrayfield misloop.

Warrick Gelant, Erasmus se tweedekeuse-heelagter, herstel nog van ’n skouerbesering, hoewel hy al begin oefen het.

Andries Coetzee van die Leeus was verlede jaar die Bokke se heelagter, maar hy het ’n beentjie in sy voet gebreek. Hy sal eers weer in volgende jaar se Superrugby-reeks speel.

Cheslin Kolbe wat verskeie kere deur Erasmus uitgesonder is as iemand wat op heelagter kan uithelp as Le Roux nie beskikbaar is nie, kan ook deur sy Franse klubspan Toulouse verhinder word om vir die Engelse toets oorweeg te word. Hy behoort steeds die groep te haal.

Om sake vir die Bokke te vererger, bevind Frans Steyn (Montpellier) en Pat Lambie (Racing 92), twee ander moontlike opsies, hulle tans nog in rugby se siekeboeg.

Steyn het sy dyspier beseer. Hy sal eers ná 19 November weer begin oefen. Lambie volg nog ’n rehabilitasieprogram nadat hy sy knieligamente in Mei teen Leinster beseer het.

Al hierdie probleme op heelagter versterk Aplon se kanse om onverwags weer toetsrugby te speel.

Die talentvolle Damian Willemse moet ná sy skitterspel op Loftus Versfeld as Le Roux se plaasvervanger teen die All Blacks sterk in die prentjie wees om teen Engeland te begin.

Hy is vertroud met die Bokke se strukture, maar het nie Aplon se ervaring van Europese toestande nie. Voordat hy hom by Toyota Verblitz aangesluit het, was Aplon lank een van die Franse klubspan Grenoble se uitblinkers.

Sy ouderdom sal wel die wenkbroue laat lig. Japanse klubrugby is ook nie van dieselfde gehalte as Superrugby of die Pro14-reeks nie.

’n Ingeligte het egter die week aan Rapport gesê Aplon doen steeds sy ding vir Verblitz, waar hy saam met die Bok-slot Jason Jenkins speel.

  • Die Bok-senter Jan Serfontein sal weens klubverpligtinge by Montpellier in Frankryk nie vir November se toetse teen Engeland, Frankryk (10 November, Parys), Skotland en Wallis (24 November, Cardiff) oorweeg word nie.
Meer oor:  Gio Aplon  |  Rassie Erasmus  |  Europa  |  Beserings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.