Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Gulde kans Bokveld toe’ in Brisbane

Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het die Bokke se “onnosele spel met tye” uitgelig as ’n vername rede vir die span se teleurstellende nederlaag in Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen Australië in Brisbane.

’n Erg verswakte Wallaby-span het die Bokke 23-18 verslaan – ’n tweede weg-nederlaag agtereenvolgens in die Rugbykampioenskap. “Die Wallabies was gewond en ons kon hulle weggebêre het,” het ’n teleurgestelde Bok-afrigter gesê.

Die Bok-vleuel Makazole Mapimpi word deur Jack Maddocks omgedop in Suid-Afrika en die Wallabies se toets gister in Brisbane. Foto: Reuters

Hy het veral klem gelê op kombinasies wat nie werk nie. “Die uitdaging is om die regte kombinasies vinnig te vind, of om (as afrigter) afgedank te word. Ons besef wat die gevolge gaan wees as ons nie daarin slaag nie. Ons (afrigters) is dan weg.”

Oor die nat toestande gister in Brisbane het Erasmus enige kans vir verskonings oor die weer van die tafel gevee. “Die span wat gekies is, moes in droë toestande of in reën beter speel.”

Hy was erg teleurgesteld in die Bokke se vertoning in die tweede helfte. Veral omdat hulle nie hul kanse teen ’n Wallaby-span sonder sterre soos Adam Coleman, David Pocock en Israel Folau kon benut nie.

“In die tweede helfte het die druk ’n paar spelers duidelik beïnvloed. Hulle sal moet leer om dit te hanteer. Ek sluit myself ook in. Ons het ’n teleurstellende tweede helfte gehad. Ons het toe veral gesukkel om uit ons eie halfgebied te kom.

“Dis ook nie ’n goeie begin as jy vroeg in die toets sewe punte afstaan nie. Ons eerste helfte was wel beter (vergeleke met die ses ander toetse) vanjaar.”

Bongi is nie oor sy ingooi vervang nie, want dit was ’n kombinasie met Siya en die spelers.

Erasmus erken die lynstaaningooi van Bongi Mbonambi wat tot ’n drie vir die Wallaby-senter Matt Toomua gelei het toe die bal in ’n vryval oor sy springers se koppe gegooi is, was ’n yslike frustrasie. Die Bok-afrigter het agterna gesê hy het nie sy haker in reaksie op dié flater afgehaal nie.

“Bongi het nie baie (rugby die afgelope tyd) gespeel nie,” het Erasmus gesê.

“Jy kon sien hy het (ná 35 minute) begin sukkel. Jy kan die spelers vra . . . die ooreenkoms is jy speel solank as moontlik. As jy moeg raak, moet die plaasvervanger opgestuur word. Ek het selfs die kaptein (Siya Kolisi) in Junie se toetse vervang.

“Bongi is nie oor sy ingooi vervang nie, want dit was ’n kombinasie met Siya en die spelers.”

Die Bokke se plaasvervangerbank het Saterdagaand nie dieselfde invloed as vroeër die seisoen op die gang van spel gehad nie.

Steven Kitshoff en Pieter-Steph du Toit se insluiting in die beginspan het ’n invloed daarop gehad. Nieteenstaande het die Bokke steeds hope geleenthede gehad om die toets te wen.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, stamp die Wallaby-skrumskakel, Will Genia, af.

Hul balhantering in die nat toestande en besluitneming was nie goed nie. Die Bokke was met tye ook te oorgretig om hul eerste sege sedert 2013 in Australië te behaal. Die besoekers het wel nog tot in die laaste sekondes van die wedstryd ’n kans gehad om te wen toe Francois Louw oorgeduik het, maar bevind is daar was ’n aanslaan in die aanloop tot sy drie.

Kolisi het gesê hulle sal eers na ’n video-ontleding van daardie ingooi moet gaan kyk om presies te bepaal wat verkeerd geloop het. “Maar ek dink daar was kommunikasieprobleme,” het hy gesê.

Erasmus erken sy span sukkel nog in nat toestande. Hulle het ook die twee vorige toetse vanjaar in nat toestande – in Washington teen Wallis, en in Kaapstad teen Engeland – verloor.

“Baie spelers doen nog ervaring op, maar sukkel nog in die groot oomblikke.

“Die twee drieë wat ons afgestaan het, was twee sagte drieë. Dis nie ’n geval dat daar ’n probleem met ons verdedigingstelsel is nie. Een drie het ná ’n swak individuele duikslag gevolg. Die ander een ná ’n swak ingooi. Dis frustrerend om nie presies te kan sê wat dit is (dat die Bokke nie op die oomblik kliek nie).”

Die spel van die Bokke se drie grootste besluitnemers in hul agterlyn, Faf de Klerk, Elton Jantjies en Willie le Roux, is kommerwekkend met die oog op volgende Saterdag se toets teen die All Blacks in Wellington.

“Elton het met tye briljante goed gedoen. Hy het veral goed pale toe geskop. Daar was wel klein dingetjies, soos daardie grondskop van hom wat dalk ’n drie kon gewees het as dit nie so hard geskop is nie. As die bal nie in spel bly nie, is dit egter ’n slegte fout.”

Die Bokke vlieg Sondagoggend na Wellington. Die erns van Mapimpi se besering sal dan eers bekend wees.

Meer oor:  Rugbykampioenskap  |  Bongi Mbonambi  |  Rassie Erasmus  |  Rugby  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.