Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haai-breier Everitt sê nee vir Kings-pos

Die Southern Kings sal weer hul net moet uitwerp in hul soektog na nuwe afrigters nadat Sean Everitt hul aanbod van die hand gewys het.

Sean Everitt sal nie die Kings in die komende seisoen help afrig nie. Foto: Gallo Images

“Hulle (die Kings) het my ongeveer twee maande gelede genader, maar ek gaan nie Durban vir Port Elizabeth verruil nie,” sê Everitt.

Everitt was Sondag in die Baai vir die Haaie-15-tal – van wie hy die hoofafrigter is – se SuperSport-uitdaagwedstryd teen die Oostelike Provinsie. Die OP het dié wedstryd in die Wolfson-stadion met 27-7 gewen.

Everitt is ook ’n hulpafrigter van die Haaie se Curriebekerspan. Hy het nie gesê of die Kings hom as ’n hoofafrigter of as hulpafrigter wou hê nie.

Chumani Booi, die Kings se huidige agterlynafrigter, was op sy beurt versigtig om by bespiegelinge oor sy toekoms by die franchise betrokke te raak. Die Kings se base onderhandel tans oor ’n skeidingspakket met die hoofafrigter, Deon Davids, en daar is gerugte dat Booi ook gepos gaan word.

“Ek kan my nie oor die gerugte uitlaat nie. Al wat ek kan sê, is dat ek steeds in gesprek met die Kings oor my toekoms is,” sê Booi.

Chumani Booi weet in hierdie stadium net dat hy die OP in die nabye toekoms gaan afrig vir die Curriebeker-reeks. Foto: Gallo Images

Hy is tans ook die hoofafrigter van die OP en hy is reeds aangestel om die span in die komende Curriebeker-reeks te brei.

Hy was verheug oor sy span se oorwinning oor die Haaie en sê dit sal die spelers baie vertroue gee vir die Curriebeker-reeks.

“Dit wys hoe ons as ’n span gegroei het. Ons speel nou met die passie en toewyding wat ek van die ouens verwag,” sê Booi.

Toe die reeks begin het, het die Kings se agttal nie aan die verwagtinge voldoen nie. Sivuyile Kobokana, die voorspelerafrigter, het volgens Booi egter hard met die agttal gewerk.

Schalk Ferreira, veteraanstut van die Kings, het ook die OP die afgelope tyd met hul skrumwerk gehelp. Teen die Haaie was die OP soms in dié afdeling verwoestend.

Ferreira het nog nie planne om sy stewels weg te pak nie, maar is ook besig om sy vlak 2-diploma in afrigting te verwerf.

Die OP het nog net een wedstryd in die SuperSport-uitdaagreeks, teen die Zimbabwe-Akademie, oor.

Meer oor:  Deon Davids  |  Sean Everitt  |  Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.