Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Siya sal nie my 6-trui op skinkbord kry’

Verlede jaar het Dylan Richardson die oë laat rek toe hy in ’n wedstryd tussen die Haaie en Bulle sodanig in Duane Vermeulen se gesig was dat die veteraan hom later vingerwuiwend probeer verjaag het.

Jeremy Ward pleit vir vrede tussen Dylan Richardson en Duane Vermeulen in die Curriebeker-stryd tussen die Haaie en Bulle op Kingspark verlede jaar. Foto: Gallo Images

Pure kapokhaan is dié jong Haai. Reputasies, sê Richardson, is nie iets waardeur hy hom laat intimideer nie. En nadat hy verlede jaar so aan Vermeulen se ketting getrek het, hoekom sal hy nou wegdeins van ’n kaalvuis-stryd om die Haaie se nr. 6-trui met sy nuwe spanmaat Siya Kolisi?

“Soms vergeet ek teen wie ek speel,” sê Richardson die afgelope week toe die gesprek na sy skermutseling met die Bok-yster Vermeulen in ’n Curriebeker-wedstryd in Durban draai.

“Maar ek het uitgesien na die geleentheid om teen Duane te speel en hom gas te gee. Ek het nie bedoel om disrespekvol te wees nie, maar jy kan nie terugstaan op die veld nie – dan gaan jy tweede kom. Op die ou einde was ek op die veld om ’n taak te verrig en dit was om my span te help wen.”

Richardson maak dit duidelik dat hy groot bewondering vir Vermeulen én Kolisi – twee van Suid-Afrika se grootste Wêreldbeker-helde – het, maar sê ’n man moet lugtig wees om op die veld te veel respek aan hulle te betoon.

“Jy weet, dis mos maar hoe dit gaan tussen die vier lyne van ’n rugbyveld. Jy probeer jouself laat geld al is dit teen een van die beste spelers van Suid-Afrika,” sê hy.

Dylan Richardson

“Ek kyk op na Duane vandat ek ’n laaitie is. Hy is een van die beste spelers in die wêreld en dis ’n voorreg om teen so iemand te speel.

“Maar soms moet jy die respek vir so ’n speler hou vir ná die wedstryd, want op die veld moet daar nie te veel bewondering gewys word nie.”

Richardson sê daar was geen kwade gevoelens tussen hom en Duane oor die drama op die veld nie.

“Ek en Duane het agterna lekker gesels en ek kon by hom aanklop vir raad. Dis die lekker ding vir my: Maak nie saak wat op die veld gebeur nie, ek kan altyd agterna om raad aanklop by die ouens teen wie ek speel. Vir ’n jong speler is dit baie belangrik.

“Selfs ná die Groen-en-goud-wedstryd het Duane my ’n paar tips gegee. Geselsies van die veld af is uiters belangrik vir my. Jy leer so baie.”

Met die Springbok-kaptein Kolisi nou ’n Durbaniet het Richardson sy vere reggeskud om sy stempel op die oefenveld af te druk. Hy weet ’n interne tweestryd met Kolisi is moontlik sy voorland, al kan albei van hulle met ’n ander nommer as ses op die rug uitdraf.

Kolisi was tot onlangs in die Westelike Provinsie se nr. 6-trui, maar kan ook as sewe-flank of agsteman aangewend word. En die veelsydige Richardson is nie net gemaklik in die lostrio nie, maar ook op haker.

Siya Kolisi

Richardson is wel nie van plan om ’n vyand van Kolisi te maak nie. Hy het immers nou ’n goue kans om by die veteraan te leer.

“Ek het baie gedink (oor die kompetisie om die 6-trui) en voel ek sal nie ’n beter geleentheid as hierdie kry om te leer van iemand soos Siya, wat al op die hoogste vlak gespeel het, nie. Dis opwindend; dit gaan my net beter as ’n speler maak.

“Maar, bygesê, ek gaan nie terugdeins vir die uitdaging om daai 6-trui nie. Dis beslis nie in my planne (om net terug te staan vir Kolisi) nie. Dit gaan ’n geveg wees, maar dis maar rugby. Oral waar jy gaan, moet jy veg vir ’n trui. Jy moet net op jouself fokus en jou beste gee.”

Terwyl dit op flank is waar Richardson tans ’n groot reputasie bou, bekoor die nr. 2-trui hom eintlik meer.

“Ek sien myself in die toekoms eintlik as haker speel. Daar gaan baie werk moet ingaan om dit te kan doen, maar ek is reg daarvoor. Dis iets wat ek vir myself besluit het.”

“Om eerlik te wees, ek wil net op die veld wees, maak nie saak waar nie. Twee is egter ’n spesialisposisie en as jy nie aan jou vaardighede werk nie, gaan jy probleme op wedstryddag hê. As ek die skuif maak, sal dit ’n uitdaging wees, maar ek is opgewonde daaroor.”

As Richardson sy haker-droom wel waar maak, sal dit nie die eerste keer wees wat hy homself “herskep” nie.

Hy was as jong seun ’n kranige sokkerspeler wat “niks van rugby wou weet nie”. Maar nadat hy as o.10-speler vir die eerste keer met die ovaalbal te doen gekry het, het hy nie teruggekyk nie, en voortgegaan om die Haaie by die o.13-Cravenweek te verteenwoordig. 

Dylan Richardson
Richardson in ontspanne luim voor ’n wedstryd. Foto: Gallo Images

“Ek was ook gelukkig om daarna ’n volle beurs by Kears­ney College te kry en dit het baie bygedra tot my loopbaan. Dit het deure oopgemaak vir my en ek sou nie hier wees as dit nie vir hulle was nie.”

Richardson was in 2017 deel van die SA Skolespan, waarna hy die Junior Springbokke in 2019 in Argentinië by die Junior Wêreldtoernooi verteenwoordig het. Dié span het ’n rits Haaie ingesluit wat tans saam met hom vir die Durbanse franchise uitdraf. Dit was ook by die Haaie se o.19-span waar sy paaie vir die eerste keer met Sean Everitt, die huidige Haaie-afrigter, gekruis het.

“Ons o.19-span was ’n uitstekende groep spelers. Ons het die kompetisie in 2018 gewen en was vir 14 wedstryde onoorwonne."

As hy nie op die rugbyveld besig is om te sweet nie, klim hy graag op sy kajak.

“Ons is ’n groepie ouens wat dit doen. Ons klim vroegoggend op die kajak en roei uit om vis te vang. 

“Ek geniet ook die strand of ontspan in die gimnasium. Ek is nie iemand wat kan stilsit nie, ek hou van buite wees. Soms moet ek myself herinner om net ’n bietjie rustig te word.”

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Siya Kolisi  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.