Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie-baas oor Mapimpi wat bly, Paul wat gly

Donderdagaand om 22:00 het Eduard Coetzee net begin ontspan. Dit het vir die Haaie se uitvoerende hoof gelyk of geeneen van sy spelers die 21-dae-klousule sou gebruik om hul kontrakte te kanselleer en oorsee te gaan nie.

Tyler Paul (regs) by sy spanmaat Louis Schreuder. Paul het van die 21-dae-klousule gebruik gemaak. Foto: Gallo Images

“Ons het gedink ons is veilig, maar toe bel Tyler Paul se agent om 22:15,” het Coetzee Vrydag aan Netwerk24 gesê.

Die sperdatum vir die 21-dae-klousule was Donderdag (14 Mei) om middernag.

Die veelsydige voorspeler Paul (25) is die enigste Haai wat gebruik gemaak het van die vergunning wat aan spelers gemaak is om hul kontrakte binne die vensterperiode van 21 dae te kanselleer vir beter aanbiedinge oorsese. Dié grasietydperk was ’n vergunning nadat die rugbybedryf op salarisverminderinge vir spelers ooreengekom het om die impak van die Covid-19-pandemie te probeer bestry.

“Gister was ’n chaos, maar ek is baie tevrede met hoe dinge verloop het,” sê Coetzee.

Springbokke soos Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi, Thomas du Toit en Curwin Bosch bly by die Haaie. Die unie was bekommerd oor Mapimpi, wat ’n groot aanbieding van die Docomo Red Hurricanes in Japan gekry het.

Makazole Mapimpi gaan ondanks groot belangstelling uit Japan aanbly by die Haaie. Foto: Getty Images

Die Haaie het Donderdagmiddag laat nog probeer om Mapimpi (29) te oortuig om liewer in Suid-Afrika te bly. Ingevolge die 21-dae-ooreenkoms mag plaaslike spanne nie ’n teenaanbod gemaak het, of geld van buite af gekry het om spelers te oorreed om te bly nie.

“Ek dink ’n verskeidenheid dinge het die deurslag gegee (in Mapimpi se besluit om te bly). Onsekerheid oor hoe die wêreld buite Suid-Afrika lyk, het ook ’n rol gespeel.

“Ja, jy kan vir my baie geld gee, maar gaan ek in Japan aanpas? En ons het ’n langtermynplan met al ons ouens. Ons probeer met hulle werk aan ’n lewe ná rugby, veral as hulle op ’n sekere ouderdom kom.

“Ons gee vir ouens sekerheid met lang kontrakte. Die kontrak in Japan was net vir agt maande. Dis baie geld, ja, maar wat gebeur daarna?”

Coetzee sê hy het ’n punt daarvan gemaak om nie met sy spelers oor “kommersiële aspekte” te praat nie.

“Ek wou hom nie probeer oortuig nie, of leë beloftes maak nie. Veral omdat ons nie ’n teenaanbod kon maak nie, het ons maar vertel wat die visie van die Haaie is, wat ons medium- en langtermyn-doelwitte is.

“Ons het daardie goed weer bespreek en ons kultuur maar van vooraf probeer verkoop. Dit het uiteindelik die deurslag gegee.”

Paul wou by navraag nie sê by watter span in Japan hy ’n kontrak onderteken het nie.

Meer oor:  Haaie  |  Makazole Mapimpi  |  Spaarplan  |  21-Dae-Klousule  |  Salarisverlagings  |  Covid-19  |  Eduard Coetzee  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.