Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie-baas skerm vir saai rugby

Ja, die gehalte van die rugby was nie altyd watwonders nie, maar daar is versagtende omstandighede, sê Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof.

Die halfeindstryd tussen die Haaie en die WP was weer ’n saai affêre. Foto: Gallo Images

Verskeie prominente figure in Suid-Afrikaanse rugby, soos Nick Mallett, Swys de Bruin, Phil Pretorius en André Markgraaff, onder andere, het onlangs uitgevaar oor die gehalte van die rugby wat in die Curriebeker-reeks opgedis is. Hulle meen daar word hopeloos te veel op voorspeleroorheersing en skopwerk gefokus.

Die halfeindstryd tussen die Haaie en Westelike Provinsie op Nuweland, wat die Haaie met 19-9 gewen het, was ’n sprekende voorbeeld.

Coetzee het hom tot Twitter gewend om die situasie binne konteks te probeer plaas.

“Ek het geldige kommentaar gesien oor die gehalte van ’n paar Curriebeker-wedstryde. Ek probeer nie om dit te regverdig of te verdedig nie, maar ek wil net konteks gee,” het Coetzee Sondag getwiet.

Eduard Coetzee, die uitvoerende hoof van die Haaie, Saterdag by die Curriebeker-halfeindstryd tussen sy span en die Westelike Provinsie op Nuweland. Foto: Gallo Images

“In 13 rondes van rugby sedert Covid-19 toegeslaan het, het ons nie een volle week van oefening gehad nie. Die week van die halfeindstryd was die eerste sonder enige Covid-afwesighede.

“Daar is gereeld na wedstryde gereis sonder afrigters wat weens Covid-19 onbeskikbaar was. Vir verskeie wedstryde was daar meer as tien spelers onbeskikbaar. Ons werknemers en spelers het ook, soos verskeie ander mense in die wêreld, van aangesig tot aangesig gekom met die dood van hegte vriende of familielede.

“So ja, die meeste van die wedstryde was benede standaard, maar ek kies om elke afrigter en speler in Suid-Afrika te vereer wat tydens die mees uitdagende tydperk wat ons nóg in beroepsrugby in die gesig gestaar het, ons bedryf lewend gehou het.

“Ek vereer en vier ons borge en ondersteuners vir die ondersteuning terwyl sport grootliks onbenullig was weens die afsterwe van familielede en ’n stryd om lewensbestaan. Ek sien uit na die Curriebeker-eindstryd volgende Saterdag tussen die Haaie en die Bulle.

“Kom ons gebruik die geleentheid om diegene wat ons tydens die laaste tien maande van hierdie aaklige pandemie verlaat het, te vereer en te onthou; kom ons vier die sport waarvoor ons lief is.

“Die gehalte sal terugkeer, ons spelers is steeds talentvol, maar Covid-19 sal ’n nalatenskap agterlaat wat seermaak.”

Meer oor:  Haaie  |  Curriebeker  |  Eduard Coetzee  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.