Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie betrek Ier oor sy Leinster-ervaring

Die Haaie het die Springbokke dit nagedoen en ’n Ier by hul afrigtingspan ingesluit.

Neil Powell, Blitsbok-afrigter, sluit hom volgende jaar by die Haaie aan. Foto: Gallo Images

Noel McNamara, wat die afgelope tien jaar by die Ierse klubspan Leinster betrokke was, is as die Haaie se nuwe aanvalsafrigter aangestel. Die Haaie het ook aangekondig dat die deurwinterde John McFarland hom as verdedigingsafrigter by die span aansluit, totdat die Blitsbok-breier, Neil Powell, ná die Wêreldbeker-sewestoernooi in September 2022 na Durban sal verhuis om hom in dié pos te vestig.

Brent Janse van Rensburg, wat die laaste twee seisoene ’n hulpafrigter by die Haaie was, het gevra om weens persoonlike redes van sy kontrak vrygestel te word.

Die gewese aanvalsafrigter, David Williams, het hom ook intussen by Bath aangesluit, wat die gaping vir McNamara laat ontstaan het.

Die Bokke het destyds vir Felix Jones, ook ’n Ier, betrek vir die Wêreldbeker-toernooi in 2019. Die span het soveel aanklank by Jones gevind, dat hy steeds daar betrokke is.

Hy was lank in die Leinster-stelsel en almal sê dit is die beste provinsiale stelsel in wêreldrugby.

Die Haaie sal hoop McNamara bring soortgelyke sukses.

Eduard Coetzee, die Haaie se uitvoerende hoof, het Vrydag aan Netwerk24 gesê McNamara se aanstelling is gedoen met die oog daarop om die span vir die nuwe uitdagings voor te berei wat in die Verenigde Rugbykampioenskap in Europa voorlê.

“Hy was lank in die Leinster-stelsel en almal sê dit is die beste provinsiale stelsel in wêreldrugby,” sê Coetzee.

“­Hy kom met al daardie kennis na ons toe. Hy ken ook die omstandighede (in die noorde). Ons het saam met die Ierse Rugbyunie gewerk om hom hier te kry.”

Die Haaie se nuwe hulpafrigters. Foto: The Sharks

Coetzee sê die Bulle se nederlaag teen Treviso in die Reënboogbeker-eindstryd was ’n “tydige waarskuwing” dat Suid-Afrikaanse rugby nie met ’n “konserwatiewe uitkyk” na Europa kan opruk nie.

McNamara, wat ook die Ierse o.20-span sedert 2018 afgerig het, se kennis van rugby in Europa sal die Haaie in dié opsig baat.

McFarland was Heyneke Meyer se verdedigingsafrigter by die Bulle tussen 2001 en 2012. Hy is ook ’n voormalige Bok-hulpafrigter en bied broodnodige ervaring.

“Ons het ’n baie jonger en onervare span. Ons wil ouens rondom Sean (Everitt, hoofafrigter) bou waarmee hy gemaklik is,” sê Coetzee.

“Dit was die eerste keer dat Sean sy eie hulpafrigters kan kies, in die verlede het hy die ouens geërf wat hier was. Hulle was en is goeie ouens, maar nou kon hy sy eie ouens kies.

“John het drie Superrugby-titels saam met die Bulle gewen. Hy was by twee Wêreldbeker-toernooie betrokke en het tot baie onlangs by Stade Francais afgerig, so hy het al daai ervaring.”

McFarland sal die verdedigingsafrigter wees totdat Powell hom volgende jaar by die span aansluit. Daarna sal die Haaie ’n ander rol vir McFarland vind.

“Baie mense sal vra, nou hoekom kondig julle ’n ou ’n jaar voor die tyd aan? Dis deel van hoe ons dinge by die Haaie doen. Ons wil vooruit beplan,” sê Coetzee oor Powell.

“Neil het die regte waardestelsel, hy is ’n ongelooflik bevoegde afrigter. Sy fokus is uit en uit op die sewes op die oomblik, by die Olimpiese Spele en die Wêreldbeker, maar dit gaan ’n groot verandering vir hom wees van sewes na 15’s. Vir ons om hom ’n jaar te gee om dit te verwerk, is beter as om hom net direk uit sewes te betrek. Ons het reeds met sy gesin begin werk oor hoe hulle in Durban gaan aanpas. Al daardie klein dinge is belangrik.”

Etienne Fynn (voorspelers) en Phiwe Nomlomo (vaardighede) bly aan by die Haaie.

Meer oor:  Noel Mcnamara  |  Neil Powell  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.