Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie bobaas in ‘transformasie-wedloop’

Wat transformasie op die rugbyveld betref, troon die Haaie kop en skouers bo die ander spanne uit in hierdie seisoen se Curriebeker-reeks – met die Bulle wat met die voorlaaste “plek” tevrede moet wees.

Sanele Nohamba (links), skrumskakel van die Haaie, saam met die span se kaptein, Lukhanyo Am, toe die KwaZulu-Natallers en die Bulle in Desember op Kingspark in Durban slaags was. Foto: Gallo Images

Dié twee spanne pak mekaar Saterdag in die eindstryd van die tradisieryke reeks op Loftus Versfeld in Pretoria.

Ná die sewende en laaste ronde ligawedstryde (voor die halfeindstryde), was 61% van die spelers wat die KwaZulu-Natallers in die reeks ingespan het spelers van kleur. Onder hulle was 43% etnies swart, 18% bruin, terwyl 39% wit was.

Daarteenoor was slegs 30% van die spelers wat die Bulle tot voor die halfeindronde verteenwoordig het, spelers van kleur. Die Pretorianers het 70% wit, 19% bruin en 11% etnies swart spelers ingespan.

Toe die Haaie die afgelope naweek die Westelike Provinsie in die halfeindronde op Nuweland geklop het, was daar nege spelers van kleur in die Durbaniete se beginspan. Jake White se Bulle wat die Leeus geklop het om hul plek in die eindstryd te bespreek, het ses in hul beginspan gehad.

Die WP is die span wat die seisoen die tweede beste gevaar het wat betref transformasie. In die ligawedstryde het die Kapenaars 47% spelers van kleur gekies, wat bestaan het uit 16% etnies swart en 31% bruin.

Die Pumas, wat hulself vroeër die seisoen die gramskap van rugbybase op die hals gehaal het oor gebrekkige transformasie, het die derde beste gevaar. Die span se breier, Jimmy Stonehouse, het 36% spelers van kleur ingespan, wat bestaan uit 19% etnies swart en 17% bruin.

Die Laevelders was in Oktober in die pekel omdat hulle slegs twee spelers van kleur, Devon Williams (heelagter) en Darrien Landsberg (slot), in hul beginspan teen die Stormers in die Superrugby Unlocked-reeks gehad het.

Dit het van die ringkoppe van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) so ontstel, dat dié beheerliggaam se president, Mark Alexander, in ’n skrywe unies geroskam en gemaan het om hul huise in orde te kry wat betref transformasie.

Die Bulle hou kajuitraad die afgelope naweek gedurende hul kragmeting in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks teen die Leeus op Loftus Versfeld in Pretoria. Foto: Gallo Images

Saru vereis van unies om minstens sewe spelers van kleur in hul 23-tal vir wedstryde te hê.

Griekwas, wat 33% spelers van kleur ingespan het, is vierde, gevolg deur die Vrystaat-Cheetahs met 32% in die vyfde plek.

Die span wat die swakste gevaar het wat betref transformasie op die veld, is die Leeus. Slegs 26% (16% etnies swart en 10% bruin) spelers van kleur is deur die Johannesburgers in die ligawedstryde van die Curriebeker-reeks ingespan.

Ivan van Rooyen, breier van die Leeus, het sewe spelers van kleur die afgelope naweek in die halfeind teen die Bulle in sy beginspan gehad. Geen van die Leeus se plaasvervangers vir dié kragmeting was gekleurd nie.

Meer oor:  Haaie  |  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  Transformasie  |  Leeus  |  Bulle  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Curriebeker  |  Saru  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.