Die Bulle, Haaie en Stormers kan die Britse en Ierse Leeus moontlik later vanjaar in Engelse sokkerstadions soos St. James’ Park en Villa Park pak.
Dit is deel van gebeurlikheidsplanne wat glo opgestel is vir ingeval die Leeus-toer na Suid-Afrika weens die Covid-19-pandemie verskuif sou word na Brittanje en Ierland.
“Ja en nee, afhangend of dit (geldelik) sin maak,” was ’n onberispelike bron se antwoord op Rapport se vraag of dit moontlik is dat die franchises in sokkerstadions kan speel.
“Maar ons is werklik ver daarvan (om besluite te neem). Almal span die kar voor die perde in.”
Op ’n vraag of ’n groter kans bestaan dat die reeks eerder oorsee as in Suid-Afrika gespeel sal word, het die bron geantwoord dis nog te vroeg om te sê.

Warren Gatland
“Die besluite gaan eers in Maart geneem word.”
Dit blyk wel daar is reeds sekerheid dat die Britse en Ierse Leeus nie na Suid-Afrika sal reis, sou enige van die wedstryde hier in leë stadions plaasvind nie.
Die afrigter Warren Gatland se span moet, soos sake tans staan, nog op 3 Julie in die Kaap teen die Stormers speel. Die Haaie sal op 10 Julie in Durban teen hulle te staan kom. Die Bulle en Gatland-hulle se afspraak is op 17 Julie op Loftus in Pretoria.
Die datum vir die eerste toets is 24 Julie in Johannesburg. Die tweede een is op 31 Julie in Kaapstad en die derde een op 7 Augustus in Johannesburg.
Die Britse koerant The Telegraph berig ’n moontlikheid bestaan dat die toetse na Londen, Cardiff en Dublin geskuif kan word, sou dit nie vir Suid-Afrika moontlik wees om die toer aan te bied nie.
’n Ingeligte het aan Rapport gesê die mini-Wêreldbekertoernooi wat Rugby Australië rondom Julie vanjaar wil aanbied, is nie ’n opsie vir die Bokke nie.