Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie doen hul huiswerk oor Brumbies
Robert du Preez, die hoofafrigter van die Haaie. Foto: Gallo Images

Dit is vir Robert du Preez, die afrigter van die Haaie se rugbyspan, van die allergrootste belang om Saterdag spelers op die veld te hê wat almal 100% fiks is.

Die Haaie speel in Canberra in die kwarteindronde van die Superreeks teen die Brumbies.

Du Preez het een verandering aan die beginspan gemaak wat die Stormers verlede week in Kaapstad geklop het om vir die uitspeelstryde te kwalifiseer.

Curwin Bosch, wat daardie wedstryd misgeloop het weens ’n enkelbesering, is terug as heelagter in die plek van Aphelele Fassi, wat op sy beurt sy skouer teen die Stormers beseer het.

Daar is ook een verandering op die plaasvervangersbank, waar die stut Juan Schoeman terug is nadat hy met griep gesukkel het en by John-Hubert Meyer oorneem vir hierdie wedstryd.

Vir Beast is dit ook ’n groot frustrasie dat hy nou weer moet uitsit nadat hy so naby daaraan was om terug te kom.
Robert du Preez

Du Preez het ook sy frustrasie uitgespreek dat Beast Mtawarira steeds uit aksie is met ’n kniebesering, hoewel hy baie lof het vir sy plaasvervanger, Mzamo Majola.

“Vir Beast is dit ook ’n groot frustrasie dat hy nou weer moet uitsit nadat hy so naby daaraan was om terug te kom,” sê Du Preez van sy mees ervare Superspeler, wat aanvanklik in die span teen die Stormers was, maar toe verlede Vrydag in die kapteinsoefening sy knie weer seergemaak het.

Volgens Du Preez het hy geen idee hoe lank Mtawarira uit aksie gaan wees nie.

Robert du Preez, afrigter van die Haaie, was in sy noppies met die spel wat Rhyno Smith as plaasvervanger-heelagter teen die Stormers opgedis het.Foto: Gallo Images

Wat die vertoning van die plaasvervanger-heelagter, Rhyno Smith, teen die Stormers betref, het die afrigter dit as uitstaande beskryf.

Smith het bykans die lengte van die veld gehardloop om die Haaie se eerste van hul twee drieë te druk.

“Ek is baie bly vir sy onthalwe. Ons twee kom ’n lang pad deurdat ek hom by die Pukke en ook Luiperds in Potchefstroom afgerig het en hy is iemand wat die temperament vir die groot oomblik het,” sê Du Preez.

Die afrigter het ook onthul dat daar vandeesweek baie aandag gegee is om die Brumbies se bedreiging in die vaste fasette hok te slaan.

“Hulle druk veral baie drieë vanaf hul lynstane en gepaardgaande rolmaalbewegings en ons sal dit moet stuit. Ons het ook gekyk na wat die Bulle gedoen het om hulle in hul onlangse wedstryd daar in Canberra te stuit."

Ons het ook gekyk na wat die Bulle gedoen het om hulle in hul onlangse wedstryd daar in Canberra te stuit.
Robert du Preez

Al het die Brumbies daardie wedstryd met 22-10 gewen, glo Du Preez die Bulle het die regte plan gehad om die Aussies se sterkste wapen stomp te maak.

Die Kiwi Mike Fraser is die 31ste persoon op die veld en hy was reeds by twee geleenthede die skeidsregter in Haaie-wedstryde hierdie seisoen.

Hy het geblaas toe die Bulle die Haaie in Durban geklop het, maar was ook in beheer van sake toe die Haaie die Leeus met 42-5 vermorsel het op Ellispark.

Die Haaie se span is:
Curwin Bosch, Sbu Nkosi, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Makazole Mapimpi, Robert du Preez, Louis Schreuder (k), Daniel du Preez, Tyler Paul, Jacques Vermeulen, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Coenie Oosthuizen, Kerron van Vuuren, Mzamo Majola. PLAASVERVANGERS: Cullen Collopy, Juan Schoeman, Thomas du Toit, Gideon Koegelenberg, Luke Stringer, Cameron Wright, Jeremy Ward, Rhyno Smith.

 

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Robert Du Preez  |  Canberra  |  Haaie  |  Brumbies  |  Superrugby  |  Kwarteindronde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.