Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie en Robert du Preez se paaie skei

Robert du Preez se dae van fyn loop vir die ‘kokkerotte’ in Durbanse rugbykringe is verby.

Robert du Preez is nie meer die afrigter van die Haaie nie. Foto: Gallo Images

Die Haaie het Woensdagmiddag bevestig dat hul paaie geskei het met dié van Du Preez, die unie se Superrugby-afrigter van die afgelope drie seisoene.

Daar was nog ’n jaar oor op Du Preez se kontrak met die Haaie. Volgens ’n verklaring het die twee partye op vriendelike voet uiteengegaan.

Du Preez se termyn as Haaie-afrigter het ’n gesonde dosis drama opgelewer. Die Durbaniete het in al drie sy seisoene aan die stuur in die kwarteindronde van die Superreeks verloor.

Vanjaar het hulle behoorlik by die agterdeur ingeglip, toe ’n drie in die doodsnikke van hul laaste groepwedstryd teen die Stormers hulle ter elfder ure in die uitspeelronde gekry het.

Die afgelope seisoen is veral vir Du Preez versuur deur die persepsie dat hy sy oudste seun, die losskakel Robert jnr., voorgetrek het ten koste van Curwin Bosch. Sy ongelukkigheid met mediaberigte daaroor was glashelder toe hy ná die naelskraapse oorwinning oor die Stormers na sekere lede van die Durbanse rugbymedia verwys het as ‘kokkerotte’, weens hul beskuldigings van nepotisme.

“Rob sal nie volgende jaar afrig nie. In hierie stadium het ons nog nie vorentoe gekyk na die Superreeks [en wie as hoofafrigter daarin sal dien] nie,” het die Haaie se uitvoerende hoof, Gary Teichmann, gesê.

“Ons is nou by die Curriebeker-brug. Tydens dié kompetisie sal ons begin beplan vir die Superreeks.”

Sean Everitt is verlede maand aangewys as die Haaie se Curriebeker-afrigter.

Die afrigter se vertrek beteken dat Kingspark tot aanstaande jaar ’n Du Preez-lose omgewing sal wees, met al drie sy seuns, Robert jnr., Jean-Luc en Dan, nou by die Sale Sharks in Engeland.

Jean-Luc en Dan sal wel terugkeer na die Haaie vir aanstaande jaar se Superreeks.

Meer oor:  Haaie  |  Robert Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.