Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie gaan bal nie eenvoudig rondslinger

Sean Everitt, afrigter van die Haaie, gaan sy grofgeskut gebruik vir Saterdag se Reënboogbeker-wedstryd teen die Bulle, wat sal bepaal watter een van dié spanne op 19 Junie in die Noord-Suid-eindstryd teen Benetton in Treviso gaan speel.

Lukhanyo Am is terug in die Haaie se beginspan en sal hulle aanvoer teen die Bulle. Foto: Gallo Images

Lukhanyo Am, die Haaie se kaptein, en Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, is albei terug – onderskeidelik as buitesenter en nr. 6-flank – nadat hulle verlede naweek se oorwinning van 33-21 oor die Leeus op Ellispark misgeloop het.

So ook sterre soos die heelagter Aphelele Fassi en losskakel Curwin Bosch.

“Ek is vol vertroue in hierdie span. Ons het ’n onervare span Ellispark toe gevat om die Leeus in ’n moeilike wedstryd aan te durf, waar ons ’n bonuspuntoorwinning nodig gehad het en ons het dit gekry,” sê Everitt.

“Wanneer jy jou Springbokke terugbring, verwag jy dat hulle goed sal vertoon. Hulle speel ook vir ’n plek in die beginspan teen die Britse en Ierse Leeus, so hulle sal baie gemotiveerd wees.”

As die Haaie vyf ligapunte in dié kragmeting insamel en kan verhoed dat die Bulle ’n enkele een aanteken, sal hulle die eindstryd in Italië haal.

Die feit dat Everitt se span in Mei nog met 9-43 teen die Bulle op Loftus Versfeld verloor het, boesem egter nie veel vertroue in ten einde daardie doelwit te behaal nie, maar die afrigter beskou ’n oorwinning met vier drieë nie as ’n onrealistiese doelwit nie.

“Die Bulle het ook verbeter, het maniere gevind om te wen en is ’n goeie span, maar die oorwinning oor die Leeus het ons met baie selfvertroue toegerus,” sê Everitt.

Hy weet egter dit gaan nie maklik wees nie en dat die span nie van meet af aan net die bal kan rondgooi nie.

“Ons het verlede week ’n identiese situasie teen die Leeus gehad, waar ons ’n voltal aan punte nodig gehad het. Ons het dié week ’n soortgelyke ingesteldheid.

“Ons gaan by ons prosesse hou. As jy van die begin af begin om bonuspunte te jaag, kan dit teen jou werk. Ons kan ook nie toelaat dat die Bulle ’n bonuspunt kry nie, so ons moet by ons plan hou.

“Ons moet momentum op die telbord bou en in die regte plekke op die veld kom, dit gaan ons nie help om roekelose rugby te speel nie, want die Bulle is ’n goeie verdedigende span.”

Everitt sê die Bulle is ’n baie goeie span in die laaste 20 minute en hulle sal dus vir die volle 80 minute moet speel.

Haaie-span: Aphelele Fassi, Anthony Volmink, Lukhanyo Am (k), Marius Louw, Makazole Mapimpi, Curwin Bosch, Jaden Hendrikse, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, Siya Kolisi, Hyron Andrews, JJ van der Mescht, Khutha Mchunu, Kerron van Vuuren, Khwezi Mona. PLAASVERVANGERS: Moet nog aangewys word.

Meer oor:  Haaie  |  Benetton  |  Bulle  |  Reënboogbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.