Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Haaie gaan nog ver vorder’ – Robert
Die Haaie se plaasvervangervleuel, Lwazi Mvovo, sit op loop in sy span se Superrugby-stryd teen die Bulle op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Die Haaie het weliswaar nie in hul doel geslaag om al hul wedstryde ná verlede week se sege teen die Highlanders te wen nie, maar hulle is nog stewig in die wedloop om die uitspeelstryde te haal.

Só het die span se breier, Robert du Preez, Saterdag ná hul nederlaag met 39-33 teen die Bulle op Loftus Versfeld gesê.

“Ons het twee wedstryde oor (voor die onderbreking vir die toetse in Junie). Ons speel volgende week teen die Chiefs in Durban en dan weg teen die Jaguares.

“Alles is nog op koers, ons is nog heeltemal in die wedloop. So ons het alles om voor te speel,” het Du Preez gesê.

Hoewel hy teleurgesteld is met die uitslag, het hy sy span se karakter geloof vir die wyse waarop hulle teruggeveg het nadat die Bulle vroeg ’n voorsprong met 12-0 en later 19-7 opgebou het.

“Om terug te veg nadat ons vroeg ver agter was en steeds laat in die stryd ’n kans gehad het om te wen, het baie veggees geverg. Ek moet die ouens daarvoor komplimenteer. Ons is ’n puik span en ons gaan nog ’n lang pad stap,” sê hy.

Om terug te veg nadat ons vroeg ver agter was en steeds laat in die stryd ’n kans gehad het om te wen, het baie veggees geverg. Ons is ’n puik span en ons gaan nog ’n lang pad stap
Robert du Preez snr.

Die Bulle het weer, soos in die spanne se vorige wedstryd in Durban, probeer om die ruimte agter die Haaie se verdedigingslinie aan te val en uit te buit.

Hoewel die besoekers dié taktiek beter hanteer het as in die loesing met 10-40 in Durban, was Du Preez nie heeltemal tevrede met die wyse waarop sy troepe dit in die eerste helfte probeer stuit het nie.

“In die eerste helfte was ons nie goed in daardie aspek nie, maar in die tweede helfte was ons baie beter.”

Die Bulle het ook van hoë hangskoppe gebruik gemaak om die Haaie se agterste driehoek, en veral die linkervleuel, Makazole Mapimpi, te ontsenu.

“Hulle het dit die vorige keer ook gedoen en is daarvoor beloon. Ons het geweet dat hulle dit weer sou doen. Hulle is ’n goed gebalanseerde span, hulle kan enige tipe wedstryd speel.

“Ons ontsnappingstrategieë het ons ook in die steek gelaat en drie skoppe was nie uit nie. Dit is nie ’n goeie manier om te begin nie.”

Du Preez was dit eens dat die geelkaart wat sy heelagter, Curwin Bosch, in die tiende minuut gekry het, ’n demper op die Haaie se wenkanse geplaas het.

Die oomblik toe Curwin Bosch vir Warrick Gelant gepootjie het. Foto: Gallo Images

Bosch is koelkas toe gestuur nadat hy vir Warrick Gelant, Bulle-heelagter, gepootjie het. Sy afwesigheid het sy span 12 punte gekos.

“Dit het ons duur te staan gekom. Ons dissipline het ons vroeg in die steek gelaat en ons het vroeg 19 punte teen ons gehad. Dit sou altyd moeilik wees om van só ’n agterstand terug te veg,” sê Du Preez.

Du Preez was wel tevrede met die intensiteit wat sy spelers uitgestal het.

“Dit was ’n Suid-Afrikaanse derby. Veral die agttal was baie fisiek en oorheersend. So, die intensiteit was daar. Ons het wel gesukkel om ons vorm op die aanval te behou. Ons het die bal miskien te vinnig uitgegee in daardie een-teen-een-situasies. Ons kon nie ons struktuur in orde kry op die aanval nie.”

Puntemakers: Bulle 39 (22): Drieë: Warrick Gelant, Jesse Kriel, Roelof Smit, Johnny Kotze, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Pollard (2).

Haaie 33 (17): Drieë: Curwin Bosch, Jacques Vermeulen, Jean-Luc du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (3). Strafdoele: Curwin Bosch, Du Preez (3).

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Robert Du Preez  |  Pretoria  |  Durban  |  Bulle  |  Haaie  |  Derby  |  Rugby  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.