Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie ‘gebroke’ oor uitslag teen Crusaders
Elke Crusader is Vrydag in Christchurch deur drie Haaie omring. Hier word George Bridge aarde toe gebring deur Dan du Preez, terwyl Makazole Mapimpi en André Esterhuizen ook by is. Bridge se spanmaat, Jack Goodhue, kyk toe. Foto: Getty Images

Die Haaie het die beste span in die Superrugby-reeks, die verdedigende kampioen, op sy tuisveld van ’n sege weerhou – maar hulle is nie heeltemal tevrede met die uitslag nie.

Was dit nie vir ’n verdoelde drie nadat gewone speeltyd Vrydag verstreke was nie, het die Haaie die eerste Suid-Afrikaanse span sedert 2014 geword om die Crusaders in Christchurch te klop.

Daardie drie deur die tuisspan se losskakel, Mitch Hunt, het die wedstryd met 21-21 gelykop laat eindig.

“Ons is hartgebroke,” het Robert du Preez, die Haaie se breier, ná die wedstryd gesê.

Ons is hartgebroke. Maar jy kan nie stry met drie drieë teenoor niks nie.
Robert du Preez

“Maar jy kan nie stry met drie drieë teenoor niks nie.”

Die Haaie het maar bra min van die bal gesien en moes op rotsvaste, ongenaakbare verdediging staatmaak om die ’Saders hok te slaan. Sewe strafdoele deur Curwin Bosch het die Haaie in die wedstryd gehou.

“Ons kon nie ons hande op die bal kry in die tweede helfte nie, terwyl die Crusaders ook al die gebiedsvoordeel gehad het. Jy gaan altyd sukkel om ’n goeie span soos die Crusaders só lank van jou doellyn af weg te hou,” sê Du Preez.

Volgens espn.co.uk het die Crusaders 70% van die balbesit en 74% van die gebiedsvoordeel geniet. Tog het die Haaie maniere gevind om in die wedstryd te bly.

“Die span is teleurgesteld. Om hierheen te kom en te wen, is baie moeilik. Ons is wel tevrede met die twee punte.

“Die wyse waarop ons vanaand gespeel het, wys net die vasberadenheid van die span. Dit gee ons baie selfvertroue voordat ons die Chiefs volgende week in Hamilton pak.

“Om die een of ander rede hou die Haaie altyd daarvan om te toer. Dit snoer die ouens saam,” sê Du Preez nadat sy span verlede week met die Waratahs in Sydney afgereken het.

Curwin Bosch het sewe strafdoele deur die pale gejaag. Foto: Getty Images

Die breier sou ook in sy noppies gewees het met die vertoning van sy losskakel, Bosch. Hy het rigting verskaf en ook puik geskop.

“Ons skopwerk was uitstaande. Ons kon selfs nog meer geskop het in die tweede helfte, ons het te veel in ons gebied probeer speel.”

Die Haaie se longkapasiteit is getoets in die laaste vyf minute, toe die Crusaders aanslag op aanslag op hul doellyn geloods het. Toe was die Durbaniete nog met 21-14 voor, maar die tuisspan het verbete geveg om nie aan die verloorkant te wees nie.

“Die plaasvervangers het ook ’n groot impak gemaak toe hulle opgestuur is. Daardie laaste vyf minute was taai, maar ek is baie trots op die ouens.

“Hulle het ’n groot vertoning op die verdediging ingesit. Ons het ’n magdom duikslae uitgevoer en die meerderheid daarvan was oorheersende duikslae.

Ons het ’n magdom duikslae uitgevoer en die meerderheid daarvan was oorheersende duikslae.
Robert du Preez

“Dit was uitstaande.”

Volgens espn.co.uk het die Haaie 163 duikslae uitgevoer teenoor die Crusaders se 52.

Die laaste keer wat die Crusaders tuis teen ’n Suid-Afrikaanse span verloor het, was toe die einste Haaie hulle in 2014 in Christchurch geklop het.

Puntemakers:

Crusaders 21 (7): Drieë: Codie Taylor, Jack Goodhue, Mitchell Hunt. Doelskoppe: Hunt (3).

Haaie 21 (9): Strafdoele: Curwin Bosch (7).

Meer oor:  Curwin Bosch  |  Nieu-Seeland  |  Christchurch  |  Crusaders  |  Superrugby  |  Verdediging  |  Afrigter  |  Rugby  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.